Dr. Zamani Saul praat voor sy huis in Kimberley met Govan Whittles, ’n Carte Blanche-joernalis, wat hom uitvra oor die jarelange rioollekplek in sy straat.

Foto: Skermgreep YouTube/Carte Blanche

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het in ’n verklaring na Carte Blanche – ’n ondersoekende TV-program op M-Net – gekap oor ’n insetsel waarin Kimberley se diensleweringsprobleme belig word.

Saul het volgens Cope na bewering ook op X “rassistiese opmerkings” oor die program gemaak.

In dié insetsel verskyn Saul voor sy eie huis waarin Govan Whittles, ’n joernalis, hom uitvra oor die jarelange rioollekplek in dieselfde straat waaroor ’n buurman radeloos is. Die buurman moes ’n kanaal grawe om die rioolvuil weg te lei.

Whittles vra aan Saul of hy en sy lyfwagte net in een rigting ry om die rioolwater te vermy, waarop Saul antwoord dat hy gereeld daar verbydraf en die riool ruik.

Die joernalis vra ook wanneer die eerste huise van die R1 miljard-behuisingsprojek wat deur pres. Cyril Ramaphosa in Roodepan bekendgestel is, gebou gaan word.

Saul sê in sy verklaring dat die program ’n “negatiewe grondslag van sensasie van wanopvattings” het en “eensydig” is.

Dr. Zamani Saul se plasing op X waarin hy sy misnoeë oor die Carte Blanche-program uitspreek.

Volgens Saul het hy die joernalis herhaaldelik gevra om die onderhoud te kontekstualiseer. Die onderhoud het 16 minute geduur, maar slegs gedeeltes is uitgesaai om die Sol Plaatjie-munisipaliteit in Kimberley as wanfunksioneel uit te beeld.

Saul het in die insetsel verduidelik wat die oorsake van probleme is, en hoe dit opgelos word. Derduisende mense het sedert die nuwe demokrasie toegang tot munisipale dienste.

Volgens hom het die sesde administrasie dienslewering versnel en word verwaarloosde infrastruktuur opgeknap om voorheen benadeeldes te bevoordeel.

Stats SA se statistiek word aangehaal om te bewys dat die meerderheid burgers toegang tot water, sanitasie en elektrisiteit het.

Saul het in die TV-onderhoud erken daar is uitdagings met agterstallige herstelwerk, maar dat planne in plek is om dit te herstel.

Die munisipaliteit het ’n begroting van meer as R2 miljard van die nasionale regering gekry om die waterinstraktuur op te knap.

Goeie werk is reeds gedoen om waterverliese te beperk en watergehalte te verbeter.

Luidens die verklaring het die munisipaliteit reeds sakeplanne by die departement van water en sanitasie ingedien om geld vir herstelwerk vir die rioolinfrastruktuur te bekom. Die munisipaliteit wil die Homevale-afvalwater-aanleg opknap, wat glo weens “vandalisme” nie funksioneer nie.

Boonop is amptenare druk besig om slaggate te herstel.

Saul versoek joernaliste om regverdig te rapporteer en nie feite te verdraai deur “wanvoorstelling, opsetlike weglatings en opsommings” nie.

Pakes Dikgetsi, Cope se waarnemende nasionale voorsitter, sê die TV-program het die verwaarloosde infrastruktuur, verbreekte beloftes en agteruitgang onder Saul se regering belig.

“Saul het op 13 Mei op X (voorheen Twitter) in ’n emosionele uitbarsting en rassistiese tirade sekere uitlatings gemaak.

Om rassisme en witheid vir sy tekortkominge te blameer, is vergesog. Hy sê in die TV-onderhoud hy benodig 500 jaar om die infrastruktuur te herstel, wat toon hy het nie die begrip of gravitas vir die rampsituasie wat mensegesondheid, die omgewing en die ekonomie bedreig nie. Hy en sy party toon nie integriteit en leierskap nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article