“Daaroor het geen mens seggenskap nie.”
Terwyl hy dit sê, kyk hy peinsend in die lig in.
Hy is al so ’n bietjie verder gevorder in lewensjare as enige ander een van ons in die geselskap.
Die gesprek het begin met gesels oor die nietigheid van die mens. Oor hoe vinnig iemand nog hier kan wees, en die volgende oomblik kry ’n mens ’n doodstyding.
Ander kere staan ’n mens by die sterfbed, maar dit is asof die dood net nie wil kom nie.
’n Mens weet nie tot wanneer en hoe lank nie.
Ander kere verstom ’n mens jou aan die lewenslustigheid van iemand, en dan hoor jy daar was skielik ’n dood.
Soms is dit siekte, soms ’n ongeluk, soms sommer net.
Jy kry dat mense wat uiters ongesond lewe, soms uiters lank lewe; ander kere kry jy dat mense wat baie gesond leef, sommer skielik net sterf.
En so gesels ons.
Oor dood.
Totdat die oom in die geselskap peinsend ons herinner die mens het nie oor die dood seggenskap nie.
Om te lewe is ’n genade; om reg te wees wanneer jy sterf, is genade.
Lewe is kosbaar, lewe is spesiaal, lewe is ’n voorreg.
Om voortdurend op die dood te fokus sal negatief wees; om die dood te ignoreer sal dwaas wees.
Ons moet almal eenmaal sterwe.
Daarom moet ons lewe, terwyl ons lewe, en gereed wees vir sterf wanneer dit tyd is.
En daaroor het geen mens ’n sê nie.
Die geheim is: Lewe die lewe, vrees nie die dood nie.



