Pierre Lotter en sy oom, Willem Pretorius.

Foto: Verskaf

Die familie van Pierre Lotter (23) van Kathu is dankbaar dat die owerhede nooit ophou soek het na hul seun en sy worshonde nie.

“Ons is baie dankbaar dat Pierre en sy geliefde honde gevind is. Ons kan nou begin berus,” skryf die familie in ’n gesamentlike boodskap wat op Maandag 20 Mei deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) uitgereik is.

Die lyk van Pierre Lotter en karkasse van twee van sy drie worshonde is Sondag naby Melkbosstrand gevind.

Lotter en nog ’n man, wat as sy oom, Willem Pretorius (47), geïdentifiseer is, het verlede week Dinsdag saam met die drie worshonde op ’n eilandjie in die see by Bloubergstrand visgevang.

Hulle het vermoedelik tydens hoogwater probeer om na die strand terug te keer en het in die moeilikheid beland.

Die NSRI het Maandag gesê die lyk van ’n man, vermoedelik Lotter, is Sondag naby Melkbosstrand gevind. Craig Lambinon, woordvoerder, sê owerhede is besig met die formele identifisering. Die drie honde is al drie dood gevind.

Die familie, Tienie (pa), Landie (ma), Maurice (broer), Cara (skoonsuster), Marinda (ouma), Rizell (tante) en die uitgebreide familie, het luidens die boodskap wat via die NSRI uitgestuur is almal bedank wat by die reddings- en soekpogings betrokke was.

“Weet asseblief
dat julle meer waardeer word as wat woorde ooit sal kan uitdruk. Daar was ook
baie individue, familie en vriende wat nie kon kom help soek het nie, maar
gebid het en ons weet in ons harte dat daardie gebede verhoor is,” skryf die
familie. “Dankie aan diegene wat gedurende die koue nagte na Pierre gesoek het.
Ons familie het geweldige waardering teenoor almal.”

Die familie het
die NSRI en die polisie uitgesonder vir hul “toewyding en ondersteuning”, wat
die familie aanhou laat glo het dat Lotter gevind sou word. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article