Ná jare waarin die openbare tuin in Kakamas ’n onooglikheid was, nooi Ons Tuin besoekers nou om stil te hou en foto’s te neem en voel inwoners trots op wat vermag is.
Die eer en krediet gaan aan elkeen wat met dié “kliptuin” langs die N14-kruising gehelp het, sê Marie Nel, ’n inwoner en betrokkene by die Kakamas Belangegroep.
“Elkeen het uit die goedheid van sy hart gegee en gedoen, soveel soos hy kan,” sê sy.
Dit sluit in die skoonmaak en opruim van die ruimte, die skenking van klippe of plante, die handbysit met die plant daarvan, kos en drinkgoed, geldelike bydraes, benodigdhede soos sement en pype, die opknapping van die waterwielreplika, en die beskikbaarstelling van toerusting.
Die Kakamas Belangegroep is ’n apolitiese gemeenskapsgroep wat die dorp wil verbeter, en ’n paar jaar gelede is besluit om dié openbare tuin op die grond van die Kai !Garib-munisipaliteit op te knap. Die ruimte is langs die N14-roete geleë, en skep die eerste indruk wat reisigers tussen Keimoes en Pofadder, en ook diegene op pad na die Augrabies Nasionale Park, van dié dorp kry.
Inwoners het toe reeds talle klagtes oor dié ruimte gehad, onder meer haweloses wat onder die bome bly en vuur maak; en die strooi van rommel, wat gereeld aan die brand gesteek is. Sommige het dit as asgate en ’n “toiletplek” beskryf.
’n Groep verbygangers het selfs op ’n keer hul klere in die water by die waterwiel gewas, waarna hulle die nat klere aan die struike en bome gehang het om droog te word, terwyl hulle met slegs onderklere op kartonbokse in die son lê en bak het.
Die groep en ondernemings het besluit om ’n projek hiervan te maak, en die munisipaliteit het toestemming verleen nadat planne voorgelê is. Die werk is oor ’n lang tydperk uitgevoer, na gelang van die beskikbaarheid van tyd en geld. Groot, dooie bome is onder meer afgesaag, ander gesnoei, en vragte klip is vanaf 15 km uit die dorp uit aangery.
Hoewel daar nog werk is, is Kakamas se kliptuin al ’n lus vir die oog. Verwelkomingsborde gaan nog aan die driehoekige klipstruktuur geheg word; en sonkragligte gaan snags fokuspunte in die tuin verlig.
Ná die winter gaan nog plante geplant word, maar Namakwalandse madeliefies is reeds in die grond, wat op hul tyd ’n skouspel sal wees.





