Teen vroegmiddag op Donderdag 30 Mei was reeds meer as 71,5% van die Noord-Kaap se stemme van vandeesweek se verkiesing getel, bevestig en deur onafhanklike ouditeure nagegaan.
Die uitslae van dié stemme in vandeesweek se nasionale verkiesing word elke paar minute in die Verkiesingskommissie (OVK) se uitslagsentrum in Kimberley opdateer.
Hier hou verteenwoordigers van verskeie politieke partye, OVK-beamptes en lede van die media die drie elektroniese borde met onderskeidelik die provinsiale, nasionale en streeksuitslae met afwagting dop.
Na verwagting sal die telproses in die Noord-Kaap, insluitend die ouditering van die stemme, teen laat vanaand afgehandel wees.
Bonolo Modise, provinsiale verkiesingsbeampte van die OVK, sê die grootste uitdaging met vandeesweek se verkiesing was die elektroniese kiesersbestuurstoestel wat nie altyd wou saamwerk nie en die stemproses vinniger sou laat verloop het. Die gedrukte kiesersrol is egter deurentyd en ten volle benut.
Die OVK se Noord-Kaapse uitslagsentrum het die eerste getelde stemme, wat ook deur ouditeure nagegaan is, vanaf Kamieskroon ontvang.
Modise sê die stemlokaal wat op Woensdag die laaste was om toe te maak nadat al die kiesers in die ry kon stem, was by ’n punt in Sishen in die Gamagara-distrik.
Voorlopers in die Noord-Kaap
Teen 13:24 op Donderdag was reeds 71,5% van die stemme in die Noord-Kaap getel.
Op hierdie tydstip het die ANC die meeste stemme in die Noord-Kaap gehad (110 285), gevolg deur die DA (57 234), EFF (24 798), PA (23 339), VF Plus (5 533), NCCM (4 380) en die M.K. (1 478).
Op nasionale front was op hierdie tydstip slegs 19,64% van stemme getel, met die ANC, DA en die EFF die voorlopers.





