“I remember the newspapers dying like huge moths. No one wanted them back. No one missed them. And the Government, seeing how advantageous it was to have people reading only about passionate lips and the fist in the stomach, circled the situation with your fire-eaters.” – Ray Bradbury, Fahrenheit 451

Die tragiese nuus laat Moederlief anderdag spontaan in trane uitbars, ek saam met haar.

In my meer as vyf dekades koester ek die eerste twee teen my hart. Veral Sondae.

Natuurlik moes ons eers kerk en Sondagskool agter die blad kry, waarna die geure van my tweede ma se skaapboud, aartappels en malvapoeding ons tuis verwelkom. Met kerkklere in die kas, en kortbroeke aan die bas, sou Pa, ek en boetlief oor die Rapport begin stry. Ons twee lees van agter, Pa van voor. Kibbel oor wie watter gedeelte eerste onder oë kry.

Ons sou op ons maag op die mat lê en lees en lag. Die eerste keuse was Ben, Babsie en familie, Die Skim en andere. Dan ’n begerige ogie gooi oor die speelgoed­-advertensies. Pa en boet sou ook die nuutste motors – en ek en Ma akteurs en aktrises – bespreek.

Later sou ons op die banke lê met die fliekresensies en resepte.

Nou, in tye dat geld bespaar moet word, sal Moeder die agterblad met die wenke oor slim finansiële keuses versigtig uitknip, aanstuur en bewaar. Wat gaan nou van Sondae word? Sonder die tasbare gevoel van menswees in die gemeensaam­heid van koerantlees, reuk van ink en warmte van papier?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article