Handtekeninge vir ’n petisie, om die ou burgersentrum van die Dawid Kruiper-munisipaliteit in Upington weer in werking te stel, word nou ingesamel.
Dié sentrum in Progress was eens die grootste diensleweringsentrum in die munisipaliteit en het die breër Upington-gemeenskap bedien, sê die DA in ’n verklaring.
Dit is 12 jaar gelede gesluit, wat aansienlike ontwrigting in toegang tot dienste tot gevolg gehad het.
“Dit het groot ongerief veroorsaak vir inwoners wat in vroeër jare hul rekeninge kon betaal en elektrisiteit by die sentrum kon koop,” sê Albie van Zyl, DA-raadslid.
Inwoners moet sedertdien alle betalings en aankope by die munisipale gebou in die dorp doen waar lang toue aan die orde van die dag is – dit terwyl die burgersentrum in onbruik is en al meer verval en gevandaliseer word. Die lugversorgers, twee ingangshekke, groot stopkraan en plaveiselstene is onder meer gesteel. Rekenaars en ander toerusting het ook verdwyn en die terrein word deur rondlopers en dwelmgebruikers misbruik.
Volgens Van Zyl het die DA die sluiting van die sentrum by verskeie geleenthede met die stadsbestuurder, die hoof finansiële beampte en in die komitee bevraagteken.
Geen geldige rede kon verskaf waarom die gebou nie heropen kan word nie.
Van Zyl sê die party sal vir die volgende paar weke steun insamel vir die petisie om die burgersentrum te heropen, voordat ’n formele oorhandiging daarvan in samewerking met die gemeenskap gereël word.
“Dit is tyd om toegang tot munisipale dienste uit te brei. Dit is veral voordelig vir die breër gemeenskap van Progress, Extension, Lemoendraai, Kameelmond, Belview en Morning Glory,” sê hy.




