Ouboet se skoolopleiding betree ’n nuwe era: huiswerk.

Rooyma weier om nog een keer na die uitveër te soek en besluit Boetman kry ’n lessenaar in sy kamer. Een skuif noodsaak tien ander in die pastorie.

“Mamma, I like these changes,” sê hy ’n halwe dag en vyf seer spiere later.

“When are you getting an update?” Hy is bekkig, eerlik en groei soos Jan se Boontjierank.

Intussen vermeerder Rooyma se grys hare en probeer sy voort­durend vrede maak met die afsluit van tydperke en die skelm-beginne. Een was toe Sussie in trane uitbars oor haar ore wat groot is. Rooyma was besorg oor ’n moontlike selfbeeld­kompleks. Rooypa was wys genoeg om te besef die klein modepop wil ander oorbelletjies hê. Sy dra immers al drie jaar dieselfde sterretjies.

’n Reünie-uitnodiging daag op. Niks soos die herontmoeting van mense uit jou verlede om ’n lewensopname te noodsaak nie.

Iemand vra of die Rooyspan gelukkig is in die W(o)esrand.

“Ons is,” sê Rooyma met ’n opregte glimlag.

Na aanleiding van vroeër die aand waarin die palliatiewe ver­pleegster Cicely Saunders se “We live until we die” aangehaal is, sak ’n hemelse tevredenheid oor Rooyma neer.

Die lewe is morsig en mooi. ’n Lewe in oorgawe geleef en deur liefde gerig, laat vrede na.

Prediker se “daar’s ’n tyd vir alles onder son” troos, motiveer en laat ’n glimlag: Die era van verlore uitveërs en te klein oor­belle, is net ’n seisoen. ’n Partikel van ’n reeks gebeure wat deel van ’n reis deur die verlede sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article