Douglas Mthukwane
Douglas Mthukwane vroeër in die hooggeregshof in Kimberley. FOTO: Charné Kemp

’n Vermeende verkragter wat al maande wag om vir forensiese waarneming in die Kimberley- psigiatriese hospitaal opgeneem te word, het op Vrydag 16 Augustus in die hooggeregshof in Kimberley gehoor dat hy opgeneem kan word.

Die waglys vir beskuldigdes wat by die hospitaal waargeneem moet word, is lank weens ’n gebrek aan personeel.

Douglas Mthukwane (42), eertydse departementele woordvoerder van onderwys, en vryskutjoernalis, ontken skuld op vier aanklagte van verkragting.

Hy word verdink dat hy ’n 14-jarige meisie van Greenpoint op 30 Mei 2016 in sy woonstel in Beaconsfield verkrag het. Hy moes die meisie skool toe vat, maar het haar glo eers na sy woonstel geneem. Hy het haar glo gedreig met iets wat soos ’n vuurwapen lyk. Ná die beweerde verkragting het hy haar skool toe geneem, waar sy ’n onderwyser ingelig het.

ln die ander voorval het hy na bewering op 20 Augustus 2017 ’n vrou langs die pad in Greenpoint voorgekeer en aanwysings gevra. Sy het ingestem om saam te ry. Hy het haar na ’n veld geneem en met iets wat soos ’n vuurwapen lyk gedreig en na bewering verkrag.

ln nog ’n beweerde voorval het hy op 15 Mei 2019 ’n vriendin gevra om saam met hom na sy woonstel te gaan om sy skootrekenaar te kry, waar hy haar glo twee keer verkrag het.

Renier Pieterse tree namens Mthukwane op.

Waarnemende regter Sharon Erasmus het die saak tot 13 September uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article