Lede van die onlangs heropende Noord-Kaapse tak van die Sport- en Jagfederasie (SASJ) het talle medaljes tydens ’n eerste kampioenskap verwerf.
Dié tak is in Maart heropen ná jare wat dit onaktief was. Die SASJ is ’n federasie ingestel om etiese jag te bevorder en van elke jagter ’n beter skut te maak.
Deelnemers van verskillende ouderdomme kan aansluit, en om ’n jagter te wees, is nie ’n voorvereiste nie. Deelname kan vir die mededingende sportwaarde daarvan wees, of om skietvernuf te verbeter.
Tydens ’n baanskietkampioenskapsbyeenkoms op 9 en 10 Augustus in Polokwane het ses lede deelgeneem en drie van dié skuts, van Kimberley, het medaljes ontvang.
Allie van der Walt, in die kategorie vir senior mans, het twee silwermedaljes in die boog- en handwapen ope klas (15 m) ontvang.
Marné van der Walt, o.19-meisies, het twee silwermedaljes in die jaggeweer- en .22-klas verwerf.
RW van der Walt, o.9, het in die o.14-klas in boogskiet deelgeneem en as kampioen van die baan gestap. In die .22-, windgeweer- en jaggeweerklas het hy silwer ontvang.
Tydens die skietseisoen wat op 1 September begin en tot Junie strek, kan lede kwalifiseer vir deelname aan kampioenskappe.
Die tak se aktiwiteite is nie pleksgebonde nie en belangstellendes in die Noord-Kaap sal sover moontlik ondersteun word om betrokke te kan raak.
Bel die voorsitter, MJ Douglas, by 082-524-8458 of Annélize van der Walt by 072-838-1088 vir inligting.





