Jabulani Zuma en die res van sy medebeskuldigdes.

Foto: Charné Kemp

Die staatsaanklaer in die opspraakwekkende Piet Els-moordsaak het op Dinsdag 20 Augustus in die hooggeregshof in Kimberley aangevoer hy is soos die verdediging ook ontevrede dat die polisie vir Amos Ralihlare, die vermeende opperbrein, en nog ’n verdagte ná ondervraging deur hul vingers laat glip het.

Ralihlare en ene Karabo Rankali is steeds op vrye voet. Jabulani Zuma, oudpres. Jacob Zuma se seun en ander vermeende opperbrein, staan saam met ses ander tereg op aanklagte van onder meer huisbraak, aanranding, moord en twee aanklagte van die onwettige besit van ’n 7.65 mm-Walther-pistool en ’n .30-30-Winchester-geweer.

Die staat het in hul betoë toegegee hy kon nie laasgenoemde twee aanklagte bewys nie.

‘Deurspek met leuens’
Adv. Hannes Cloete, staatsaanklaer, het Dinsdag in sy betoë aangevoer dat die beskuldigdes, waarvan sommiges getuig het, se weergawes deurspek is met leuens, onwaarskynlikhede, vaaghede, beledigings en weersprekings.

Els (86), bekende sakeman in diamantkringe, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest, (toe 68) is op 24 Januarie 2018 deur vier mans in sy slaapkamer gemartel en aangerand. Els is 111 dae later aan sy beserings oorlede. Alsemgeest het oorleef.

Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37) van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Jabulani Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Lizbeth Ndlala

Die staat voer aan drie verskillende groepe mense het saamgesweer om Els op sy plaas buite Kimberley van sy Krugermunte te beroof, en elkeen het ’n spesifieke rol gespeel.

Zuma het glo van KwaZulu-Natal gery om sy vriend, Mbokane, ’n tradisionele geneesheer, en vir Ndlala en Maja, ook tradisionele genesers, en hul makker Mahomane, in Mbombela op te laai. Vandaar het hulle na Ralihlare se huis in Kimberley gery, twee dae voor die voorval. Die helers moes glo teen betaling ’n ritueel voor die rooftog uitvoer.

Op die aand van die voorval het drie Sotho-sprekende mans by hulle aangesluit. Zuma het hulle en Mahomane glo naby die plaas, in ’n Audi-voertuig, afgelaai.

‘Sonder brandstof gaan staan’
Op die betrokke aand het die polisie langs die Audi op die teerpad naby die plaashuis stilgehou. Die bestuurder het gesê sy motor het sonder brandstof gaan staan, en die polisie is vort.

Zuma het vir Mahomane gaan oplaai, terwyl die ander met Els se Mercedes gevlug het. Dit is later verlate gevind. Gedurende die nag was daar verskeie selfoenoproepe tussen Zuma, Maja, Mbokane, Mahomane en Ralihlare.

Terug by Ralihlare se huis het Zuma, volgens die staat, die buit onderling verdeel en is hy en sy geselskap binne ure ná die aanval vort. Van die beskuldigdes voer aan Ralihlare het hulle van sy huis weggejaag. Die staat vind die beweerde onmin onwaarskynlik, want hulle het mekaar na die rooftog steeds gebel.

Die polisie het in hul ondersoek vir Ralihlare en Karabo Rankali, Morapeli Rankali se broer, ondervra maar nie in hegtenis geneem nie. Die polisie is na Morapeli se huis waar hulle Els se goue ring, in twee stukke gesny en en sonder die diamant, gevind het.

Volgens die aanklaer het Morapeli Rankali hulle na Qhautse se huis verwys waar die polisie twee pare tekkies ontdek het. Die soolpatrone stem ooreen met skoenafdrukke wat op die werf gevind is. Qhautse kon geen onskuldige verduideliking gee vir die afdrukke wat met die tekkies ooreenstem nie.

Motlalentwa Qhautse

Ndlala het glo met haar inhegtenisname in haar man (Maja) se teenwoordigheid erken hulle moes ’n ritueel doen vir ’n rooftog in Kimberley, wat sy later ontken het. Maja het erken hulle het na Kimberley gekom om iets op ’n plaas te doen, en dat die eienaar dit nie sou goedkeur nie.

Hulle sou elk R10 000 ontvang, glo om munte op te grawe. Die staat voer aan hulle het nie sulke werk gedoen nie. Die polisie het die egpaar met ’n kamera, horlosie en munte uit Els se huis betrap.

Mahomane het homself in sy getuienis op die toneel geplaas, maar ontken hy het die slagoffers aangerand en het net toegekyk. Dit is hoogs onwaarskynlik, het Cloete aangevoer. Mahomane is ’n opgeleide sekuriteitswag en sou die polisie van die misdaad in kennis gestel het as hy onskuldig was. Hy het sy makkers op pad terug na Mbombela vertel wat in die huis gebeur het.

Cloete vermoed dat Mahomane saam met Qhautse, Karabo Rankali en Ralihlare die vier aanvallers was.

Oupa Jeffrey Mahomane

Die polisie het Els se selfoon en ’n sak uit sy huis in Mbokane se besit gevind. Hy het met sy inhegtenisname gesê hulle het opdrag gekry om Krugermunte in Kimberley te gaan haal, wat niks met geldgrawery te make het nie, het Cloete aangevoer.

’n Polisieman het ook getuig dat Zuma ná sy inhegtenisname binnekennis gehad het deur te sê hy wil met Els se seuns praat en dat hy weet die opperbrein skuil in Lesotho.

Regter Lawrence Lever het die verhoor tot 22 en 23 Oktober uitgestel.

piet els en rikkie alsemgeest wat Dinsdagnag 23 ja

Piet Els en Rikkie Alsemgeest wat Dinsdagnag 23 Januarie 2018 op ‘n plaas buite Kimberley aangeval is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article