Op die geselligheid waar Agri Noord-Kaap se Jongboer van die jaar aangewys is, is van links Herman Galama, Hannes Bruwer (wenner) en Roscoe Lawrence. Galama en Lawrence was finaliste.

Foto: Charné Kemp

Hannes Bruwer wat buite Hopetown boer, is deur Agri Noord-Kaap op die onlangse jaarlikse kongres op 21 en 22 Augustus in Kimberley as sy Jongboer van die jaar aangewys.

Bruwer kom uit ’n stal van wenners, met sy broers, Vicky en Gerhard, wat al voorheen die oorkonde omhoog gehou het. Gerhard was ook ’n nasionale wenner.

Bruwer gaan in Oktober met ander provinsiale wenners om die nasionale titel meeding en kan as deel van die pryse met ’n splinternuwe Toyota Hilux-bakkie wegry.

Die ander finaliste was Rosco Lawrence en Herman Galama.

“Die kompetisie was sterk en ek en my mede-finaliste kop-aan-kop. Ek is net so trots op hulle. Ons boerderye oorvleuel baie en ons werk agter die skerms saam,” vertel Bruwer.

Bruwer, van die Genade Boerdery, werk saam met sy twee broers en pa. Hulle het meer as 6 000 ha onder besproeiing.

“Boerdery was moeilik aan die begin, maar as ’n mens moet, leer jy vinnig met die nodige hulp.”

Hulle boer met koring, mielies, springmielies, uie en ander wisselbougewas.

“Ons voordeel is dat die area (Hopetown, Douglas, Prieska, Luckhoff en Vanderkloof) die verste noord vir koringproduksie en die verste suid vir mielies is.”

Bruwer is ook by die bemarking van hul aartappels in die Oos-Kaap betrokke.

“Ons het ’n sokkerbal as embleem gebruik. Ons plaas sokkerballe in sommige van die sakkies, wat help om die verkope te stu.”

Hy sê hulle is ’n groepie boere van verskillende distrikte wat saam proewe doen en mekaar se landerye besoek om te leer.

Hy bedryf ook ’n trust met grond waaruit vaste werkers voordele put.

Bruwer is die voorsitter van die Vanderkloof Watergebruikers­vereniging en is trots dat hulle “so effektief en die beeld baie positief is”.

Lawrence se hart is ook in landbou, en vertel dat dit hom ’n lang tyd geneem het om te besef dat hy eintlik wil boer.

Hy boer in die Douglas-distrik met mielies, koring en uie, met aartappels die kern van die boerdery. Aartappels benodig heelwat geld en grond om suksesvol te kan verbou.

“Ons bewerk al meer grond vir aartappels. Ons opbrengs van 90 ton per hektaar is uitstekend.”

Die boerdery bedryf ook ’n melkery in Jacobsdal, met melk en aartappels as hoëwaardeprodukte.

Sy missie is om ’n volhoubare boerdery winsgewend te bedryf.

Lawrence is sterk daarop gefokus om sy werkers voortdurend op te lei vanweë die hoë standaarde in die bedryf.

Hy is optimisties oor die landboubedryf.

“Ons het min hulp van die regering, maar is baie onafhanklik.

“Ons land het wonderlike geleenthede, ’n vrye mark, goeie weer en wonderlike mense.”

Galama is ’n besproeiingsboer van Jacobsdal wat hoofsaaklik met mielies, koring en pekanneute boer, asook witwyndruiwe waarvan hy wyn maak.

Sy pekanneutboerdery beslaan 450 ha wat in 2014 begin is en dig aangeplant is, wat voordelig is.

Ná sy pa, Herman, se noodlottige ongeluk op die plaas in 2019 moes hy die mas alleen opkom. Hy bou voort op sy pa se werk.

Daar is ’n klein wildkomponent in die boerdery.

Hy het ook begin om ’n verwerkingsaanleg op te rig om die neute skoon te maak en sorteer.

Galama vervaardig ook van sy toerusting en implemente in ’n werkswinkel, wat deur sy pa begin is.

Hy het 48 permanente werkers wat meer as minimum loon verdien, asook heelwat seisoenwerkers, in diens. Die behuising vir die werkers is opgeknap.

“Ek is positief en sal nooit na ’n ander land trek nie, want daar is ook uitdagings.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article