Ons almal weet dat ’n saak van twee kante bekyk moet word.

Ter wille van billikheid.

Die lank en die kort is dat mense soms die mooi van ander mense mis omdat hulle almal dieselfde wil hanteer.

Die mooiste voorbeeld hiervan is seker ’n moeder wat haar kinders ewe lief het en tog anders hanteer.

Soms kry jy dat mense almal dieselfde hanteer, asof alle mense presies eenders is.

Dit kan tog nie.

Natuurlik geld dieselfde beginsels in die hantering van mense en dieselfde reëls en riglyne.

Maar mense is uniek en reageer verskillend op verskillende dinge.

Daarom is konteks wel belangrik as ons na iemand luister, saam met iemand iets doen en besluit hoe om mense te hanteer.

Een van die slegste dinge vir almal van ons is as jy moet hoor jy word presies hanteer soos ander mense, na die negatiewe kant.

Jou uniekheid word van jou weggeneem, jou andersheid, jou menswees en wie jy is.

’n Mens moet so ’n bietjie bedag wees daarop om mense gelykmatig te hanteer, ja, maar opreg en in wie hulle is.

Om daarop te roem dat jy mense gelyk hanteer, maar hulle eintlik ’n onreg aandoen omdat jy nie werk met wie hulle is nie, is immers ook nie reg nie.

Elke mens is uniek geskep, uniek toegerus en uniek geplaas op hierdie aarde, met sy of haar roeping.

Ons moet oppas om ander te vernietig deurdat ons dink ons kan alle mense presies dieselfde hanteer.

Mens, ook jy, is uniek en anders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article