Die Noord-Kaapse departemente van gesondheid en onderwys het verlede week vier skole in Delportshoop gesluit weens ’n maselsuitbreking.
Die departement van gesondheid wil dié week ’n entstofprogram van stapel stuur, lui ’n regeringsverklaring.
Masels, wat in groot dele van die wêreld bykans uitgewis is, kom weer voor weens entstofhuiwering en inentingsprogramme wat met die Covid-19-pandemie gestaak is, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie.
Masels kan lei tot breinskade, blind- of doofheid en sterfte. Dit is baie aansteeklik en versprei deur die lug. Van die simptome is ’n hoë koors, rooi veluitslag op die gesig of kop wat na die res van die lyf versprei; hoes, rooi oë en loopneus. – Liezel de Lange



