Iemand wat ek goed ken, werk vir die departement van natuurbewaring. Ek skakel hom verlede week.
“Dit klink of die wind aan jou kant waai,” sê ek.
“Ons eet broodjies op die berg,” antwoord hy.
Ek kyk vir ’n oomblik na die vier mure rondom my en die hope papiere in my kantoor. Alles syfers wat nog deurgewerk en aanmekaargesit moet word.
“Jou dae lyk soveel anders as myne,” skerts ek.
Verskillende beroepe het verskillende uitdagings. Dit maak nie saak hoe aanloklik ’n sekere beroep lyk nie, daar is ook dae wat mense wat dit beoefen hul hare uit hul kop wil trek.
Mense is verskillend aanmekaar gesit. Iewers voeg iemand waarde toe met dit waarin hy goed is of waarvan hy hou. As jy gelukkig is, albei.
Met mense in verskillende beroepe gaan die lewe sy gang.
Daar is mense wat dinge uitdink en ontwerp. Mense wat dienste lewer. Mense wat gesond maak. Items vervoer. Verpak. Verkoop. Verbou. Opruim.
Dit alles is nodig om ’n samelewing vlot te laat verloop.
Daar is mense in beroepe wat hulle absoluut grensloos frustreer. Dan is daar mense in beroepe wat daarin gedy. Iewers tussenin is die meerderheid van die werksmag.
Binne die grense van my beroep is ’n broodjie op ’n berg onwaarskynlik en onprakties.
Mag jy ’n beroep beoefen wat die beste in jou menswees te voorskyn bring.



