Laatmiddag sit ek in die tuin. Ek luister na die voëltjies wat regmaak vir hul nagrus. Ek sien die varkore wat vol in die blom is en die bome se lenteblare wat so mooi is.
Dan verlang ek sommer net. Na grootwordtye op die plaas.
Ek onthou van tussen vrugtebome deurloop. Van Pa wat my leer van verskillende soorte perskes, van Ma wat die eerste rypes pluk.
Ek dink aan die eet van plaasvrugte. Net so van die boom. Perskes, druiwe, kwepers, pruime, appelkose, lemoene, nartjies, suurlemoene en turksvye.
Ek verlang na oupa Jan met sy graaf in die hand en ouma Mart wat kosmaak voor haar koolstoof.
Ek onthou die reuk van plaaskombuis en die gevoel van die eerste reën ná die winter.
Ek begin my gedagtes orden en ek besef my verlange is hoofsaaklik in drie verdeel: mense, tye en plekke.
Daar is mense wat my lewe verryk het en wat my onvoorwaardelik liefgehad het – en vir wie ek kon lief wees. Sommer net en sonder seer.
Daar is plekke wat my veilig laat voel het en waar ek my menswees kon vorm.
Daar is tye wat in my hart gebêre is, natuurlik danksy mense en plekke.
En ek besef die belangrikheid van liefhê, en van verlang.
Detail gaan soms by ’n mens verby, maar af en toe onthou jy liefde en veilig voel; verlang jy na die mooi wat was en nooit weer kan wees nie.
Tog, jy wil dit onthou. Jy moet.
Tye, plekke en mense maak jou immers wie jy is.


