Elkeen van ons het die vermoë om op die een of ander wyse ’n verskil te maak. Een van die maniere waarop ons dit kan doen, is deur ons erflating of testamentêre bemaking.
Deur hul erflating in te span om behoeftige Afrikaanse studente te ondersteun, kan iemand ’n erfenis skep wat vir verdere geslagte voortduur.
Solidariteit Helpende Hand se Studietrust maak dit moontlik, maklik en bied boonop die geleentheid om boedelbelasting te bespaar.
Die Helpende Hand Studietrust is ’n geregistreerde en openbare weldaadsorganisasie (OWO No. 93000 6586), wat ’n belastingvoordeel ingevolge artikel 4(h) van die Boedelbelastingwet kan inhou.
Dus kan iemand met hul bemaking ’n student se lewe verander en boonop boedelbelasting spaar.
Die Studietrust fasiliteer die rentevrye studielenings vir tersiêre studie by enige geakkrediteerde Suid-Afrikaanse instelling.
Voornemende studente moet binne ’n bepaalde tydperk aanlyn hiervoor aansoek doen.
Erflatings is nie net ’n manier vir iemand om hul bates ná hul dood te verdeel nie, maar dit is ook ’n geleentheid om ’n positiewe invloed op die lewe van ander te hê.
Deur hul erflating te gebruik om ’n studiefonds te stig, kan iemand die deur na tersiêre onderrig oopmaak vir studente wat andersins nie die geleentheid sou hê om te kan studeer nie.

Lewer só ’n bydrae
1. Identifiseer ’n behoefte: Daar is baie behoeftige Afrikaanse studente wat geldelike ondersteuning kortkom om hul studie voort te sit. Iemand wat hul erflating wil bemaak, kan ’n spesifieke behoefte identifiseer wat hulle wil aanspreek, soos geldelike bystand vir studente in ’n spesifieke studieveld of vir studente van ’n spesifieke gemeenskap.
2. Stig ’n studiefonds: Iemand kan ’n studiefonds stig met die naam en kriteria van hul keuse. Daarna kan hulle die Studietrust as ’n begunstigde in hul testament benoem, en só sal hul erflating verseker dat studente toegang tot tersiêre opleiding het.
3. Bou ’n blywende erfenis: Deur hul erflating op hierdie manier te gebruik, skep iemand ’n blywende erfenis. Elke student wat deur so ’n weldoener se fonds ondersteun word, kry die geleentheid om hul eie suksesverhaal te skryf.
Elke suksesverhaal dra tot die voorspoed van komende geslagte by.
Bou hiermee ’n beter toekoms vir die land
By die Helpende Hand Studietrust is die leuse dat elke student wat wil studeer, moet kan studeer.
Enkele van hierdie studente wat met behulp van ’n rentevrye studielening kon studeer, het die volgende terugvoering oor hul ervaring gegee:
- “Ek het by Serwalo in Colbyn, Pretoria, vir ’n haarstilis studeer. Ek het nou my eie haarsalon, en leef my passie ten volle uit! Ek wil net van my kant af baie dankie sê vir al julle bystand. Hierdie studielening het ’n deur na sukses oopgemaak, en dit het alles by julle begin.” – Cristal Henning
- “Toe ek in matriek was en ons besig was om die aansoek vir universiteit te voltooi, het ons nie geweet hoe ons daarvoor gaan betaal nie. Ons het ’n geloofstap geneem en nogsteeds met die aansoek voortgegaan. Die Studietrust se hulp was werklik ’n antwoord op gebede en dit het my gehelp tot op die punt wat ek nou is. Ek is in my derde jaar van rekenaar-ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria (UP) en dit is grootliks te danke aan Helpende Hand se Studietrust dat ek nou hier is. Weereens baie dankie.” – Keagan Lynsky
Onthou, ’n erflating is meer as net ’n bedrag geld. Dit is ’n geleentheid om ’n verskil te maak in die wêreld en om ’n blywende erfenis te laat.
Deur hul erflating te gebruik om hulpbehoewende Afrikaanse studente te ondersteun, kan iemand help om ’n beter toekoms vir die land te bou.
- Besoek www.hh-studietrust.co.za vir meer inligting.



