Die betoë in die Hartswater-moordsaak waarin Dan Brand, sy vrou Breggie, en hul dogter, Elzabie Brand, wreed in 2020 op hul kleinhoewe vermoor en hul lyke naby Taung versteek is, is weer en noodgedwonge na Maart 2025 uitgestel ná die onttrekking van ’n verdedigingsprokureur en die langverlof van staatsaanklaers.
Intussen wil twee van die verdagtes, wat sedert 2020 in aanhouding is, ’n nuwe aansoek om borgtog bring. Die staat en verdediging het reeds hul sake vroeër vanjaar gesluit.
Getuienis is aangehoor oor hoe Dan (83), Breggie (76) en Elzabie (54) op 26 Julie 2020 op ’n kleinhoewe buite Hartswater ontvoer en vermoor is. Hul lyke is later in die veld en ’n rotsskeur gevind. Hulle is ook van hul selfone, skootrekenaars en twee motors beroof.
Volgens die staat is die Brand-slagoffers omstreeks 13:00 laas by hul huis gesien en die volgende dag as vermis aangemeld. Verskeie besittings en twee motors, ’n rooi Nissan Micra en ’n silwer Mazda was vermis. Die polisie het die aand ná hul verdwyning van die verdagtes in hegtenis geneem wat in die Mazda op die N18-roete gevind is. Die Nissan is verlate in ’n steengroef ontdek.
Dan en Elzabie se lyke is met hul hande en voete vasgebind gevind, en bedek met lappe. Breggie, toegedraai in ’n duvet, is in ’n rotsspleet by ’n fontein gevind.
Donald Seoleseng (21) en Tshepo Visagie (36), albei van Majaneng; Kgomotso Mpulwana (43) van Rooiwal; en Tsepaone Melato (20) van Pudimoe word elk van drie aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, ontvoering en regsverydeling aangekla.
Seoleseng word ook van ontsnapping aangekla, en Visagie dat hy ’n skootrekenaar en selfoon verpand het wat aan die oorledenes behoort het.
Die mans hou vol dat hulle op die motors in die veld afgekom het, en net die selfone en skootrekenaars wou verkoop. Hulle ontken die ontvoering, moorde of dat hulle die motors wou verkoop.
Mpulwana ontken alle aanklagte teen haar.
Realeboga Manyedi, en ’n halfbroer van Visagie, het later ’n staatsgetuie geword.
Celeste Nameka, Mpulwana se regsverteenwoordiger van Regshulp Suid-Afrika, het haarself onttrek voordat die betoë vroeg in Julie vanjaar aangehoor kon word. Sy is intussen met Heinrich Steynberg vervang.
Die verhoor is toe na 19 en 20 September uitgestel. Intussen is adv. Adele van Heerden, aanklaer, op langverlof geplaas.
Adv. Mary-Ann Engelbrecht, mede-aanklaer, was onbeskikbaar om betoë te lewer omdat sy ’n deelsverhoor in die rondgaande hof in Victoria-Wes namens ’n ander aanklaer wat ook langverlof was, moes oorneem.
Adv. Jacques Rosenberg het namens die staat aan regter Cordelia Kgopa gesê hy kan nie die betoë lewer nie.
Seoleseng en Visagie wil intussen ’n nuwe aansoek om borgtog bring.
Die saak is tot 3 Maart 2025 uitgestel.





