’n Werknemer wat die ekstra myl loop, is vir ’n werkgewer ’n groot bate.
Deesdae kla al hoe meer werkgewers oor werknemers wat graag ’n salaris wil verdien, maar nie die werk wil doen nie.
Die minimum inset vir die grootste uitset – dit is die verwagting.
Onlangs kom daar ’n groot projek oor my pad en ek nader ’n vriendin vir hulp.
Volgens my verwagting sou dit ’n groot projek wees, maar nie so groot dat dit moeilik sou wees om af te handel nie.
Ek was verkeerd.
Die paar ure waarvoor ek my vriendin se tyd en kennis gevra het, het in ’n paar dae verander.
Hoe verder die week gevorder het, hoe meer het ons besef dat hierdie uitdaging baie groter is as waarop enigeen van ons voorbereid was.
Ek wou my kop in skaamte laat sak.
Ons het die punt bereik waarop ons reeds so ver gevorder het dat ons nie kon kop uittrek nie.
Sy het besef dat sy my nie alleen met hierdie uitdaging kon los nie.
Nie net het sy die ekstra myl afgelê nie, maar dubbel en dwars skouer aan die wiel gesit totdat ons naelskraap die sperdatum gehaal het.
Haar werksbenadering en pligsgetrouheid teenoor haar werkgewer is beslis op ’n baie hoë peil.
Dankie vir kosbare werknemers wat trots op hul werk is en weier om met ’n die-lewe-skuld-my-houding voor ’n werkgewer te staan.

