Die Kimberley Akademie vir Musiek (KAM), wat in 1994 as ’n private musiekskool deur Faan en Kim Malan gestig is, vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar.
Op Vrydag 4 Oktober en Saterdag 5 Oktober word verskeie verrigtinge as deel van die feesvieringe aangebied.
Vrydag vind die solokompetisie vir laerskoolstudente in die William Humphreys-kunsgalery plaas. Die wenners word genooi om vanaf 17:30 aan die KAM-galakonsert by die Laerskool Newton saam met studente van die KAM en die National Arts Council (NAC) op te tree.
Laasgenoemde is deel van die KAM Outreach Programme for Young Instrumentalists, geborg deur die NAC.
Saterdag vind ’n solokompetisie vir musiekstudente, wie in die hoërskool is, ook in die William Humphreys-kunsgalery plaas. Dié wenners word genooi om vanaf 19:00 by die KAM prestige-galakonsert by Newton saam met die KAM se vokale en instrumentale ensemble-groepe op te tree.
Fokus op bevordering van musiek, musiekopvoeding
Die KAM se fokus is die bevordering van musiek en musiekopvoeding deur individuele en groepsonderrig aan alle ouderdomsgroepe.
Dié akademie beskik oor 11 geesdriftige en goed opgeleide personeellede wat ’n hoë standaard van bekostigbare musiekonderrig in musiekteorie, klavier, viool, blokfluit, sang, houtblaas (fluit, klarinet en saksofoon), koperblaas (trompet, tromboon en tuba), asook Fun with Music (voorskoolse musiekopvoeding) aanbied.
Die KAM bestuur boonop vanaf 2017 die suksesvolle NAC-program by vier skole in Kimberley waar daar geen musiekpersoneel is nie. Studente ontvang individuele en groepslesse in blokfluit, viool, klarinet, saksofoon, trompet en tromboon. Die nuutgestigte KAM Junior-orkes word ook geldelik deur hierdie borgskap ondersteun.
Die KAM se instrumentale ensembles bestaan uit die jazzorkes band, klarinet en saksofoon, viool, junior-orkes, vokale ensembles, die Ad Libitum Chorale (volwasse koor) en die Kimberley-kinderkoor (KCC) wat vanjaar sy 35ste verjaarsdag vier.
In 2005 is Die KAM is as ’n Art. 21-niewinsgewende-maatskappy geregistreer om toegang te verkry tot borgskappe vir musiekstudente wat geldelik minder bevoorreg is, te verkry.
Vir meer inligting oor die konserte, besoek die KAM op Facebook of maak kontak by kam@worldonline.co.za of 082-809-7908.







