Phillip Krüger

Foto: Argief Credit: SYSTEM

Phillip “Klippies” Krüger/Dieckmann (33) van Kuruman is onlangs in die streekhof in Kathu vir vyf jaar tronk toe gestuur nadat hy op drie aanklagte van bedrog wat in Augustus en September 2022 in Lime Acres gepleeg is, skuldig bevind is.

Hy het skuld op al die aanklagte beken. Dit kom nadat mense klagtes ingedien het dat hy sonkragstelsels aan hulle teen honderde duisende rande verkoop, maar nooit die produkte of dienste gelewer het nie.

Sy vonnisoplegging kom nadat Krüger, wat ook die van Dieckmann gebruik, verlede jaar deur die polisie met behulp van burgerlikes op ’n plaas buite Kuruman aangekeer is waar hy glo weggekruip het.

Vonnis opgelê
Sers. Molefi Shemane, polisiewoordvoerder, sê Krüger is op 12 September ’n verdere ses jaar gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is, opgelê met die voorwaarde dat hy hom nie weer aan soortgelyke misdade wat leuenagtigheid behels, skuldig maak nie.

Volgens Mojalefa Senokoatsane, Nasionale Vervolgingsgesag-woordvoerder, spruit die aanklagte uit 2022 toe Krüger ’n maatskappy vir sonkragtoerusting gehad het wat in die aankoop en installering van sonbatterye en -toerusting spesialiseer het.

“Die staat het beweer dat die beskuldigde gedurende Maart 2022 ’n bedrag van R168 750 ontvang het vir die verkryging en installering van sonkragbatterye aan ’n kliënt in Kathu.

“Voorts het hy gedurende Junie 2022 ’n bedrag van R187 750 van ’n ander kliënt in Kathu ontvang. Die kliënt is deur sy mynbousektor-werkgewer gesubsidieer vir die betrokke diens.

“In Augustus 2022 het ’n kliënt in Lime Acres die beskuldigde R134 120 betaal.”

Kliënte is bedrieg
Volgens die staat het Krüger nooit die bedoeling gehad om die stelsels te bekom en te installeer nie, en sy kliënte bedrieg. Dit was duidelik dat hy gedurig verskonings uitgedink het eerder as om die dienste en produkte te lewer. Die staat het uit sy bankrekords bevestig dat al die geld kort ná ontvangs bestee is.

“Ter vonnisversagting het Krüger gesê dat sy besigheid ernstige verliese gely het tydens die Covid-19-pandemie, en dat die bedrog sy manier was om verliese te verhaal.

“Hy het ook aangevoer dat hy intussen gesekwestreer en sy maatskappy gelikwideer is.

“Die staatsaanklaer, Bernice Bronkhorst-Oor, het ter strafverswaring aangevoer dat nie een van die klaers enige geld van die beskuldigde se sekwestrasie en likwidasie teruggekry het nie. Krüger het die klaers se vertroue misbruik.”

Volgens Senokoatsane het Krüger nog uitstaande sake teen hom waarin hy op soortgelyke aanklagte tereg staan.

Die polisie het vroeër bevestig dat klagtes teen hom by polisiekantore in Kathu, Lime Acres, Postmasburg, Niekerkshoop, Windsorton, Trompsburg, Bloemfontein en Pretoria ingedien is. Private speurder Mike Bolhuis het ook sake teen Krüger ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article