’n Egpaar wat buite Groblershoop boer, Thys (78) en Magda Burger (76), is in twee verskillende hospitale in Kimberley opgeneem nadat hulle beserings opgedoen het toe ’n bok voor hul voertuig ingespring het.

Die Burgers, wat al 57 jaar getroud is, was op Vrydag 27 September tussen Griekwastad en Groblershoop onderweg toe die bok vroegaand voor hul voertuig beland het.

Die ongeluk het op ’n deel van die pad gebeur waar daar geen selfoonsein is nie.

Thys het sy voet in die ongeluk gebreek, maar het uit die voertuig geklim om om te stap na sy vrou. Weens sy gebreekte voet kon hy skielik nie meer beweeg nie, het hul dogter, Joanica Marais, aan Linkie Bessinger vertel. Hy het toe net langs sy vrou gesit en haar vasgehou.

Dit het veroorsaak dat mense wat verbygery het, die wrak gesien het maar nie besef het daar is mense by die motor nie.

“Toe hou engele langs die pad stil om hulle te help. Die mense wat stilgehou het, het verder gery totdat hulle ’n selfoonsein gehad het om die nooddienste te ontbied en my ook te bel,” sê Marais.

Haar ma was drie uur lank in die motor vasgekeer.

Weens die aard van hul beserings is hulle later na verskillende hospitale oorgeplaas.

Anena Burger het vroeër berig dat twee mense, wat nie geïdentifiseer is nie, beseer is toe ’n koedoe helder oordag die Toyota Hilux-bakkie waarin hulle gery het, getref het.

Die voorval het glo op 22 September sowat 10 km buite Barkly-Wes gebeur, en die dak van die bakkie is in die slag afgeruk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article