Die matriekeindeksamen begin volgende week, en die volgende kan tot leerlinge se sukses bydra:

Volgens dr. Cecilia Klopper van CURAparent, ’n medewerker en ontwikkelaar van Afrikaans.com se matriekklaskamer, is gratis hulpbronne op die internet beskikbaar.

Sy gee die volgende riglyne:

  • Bekom vraestelle met memoranda van die laaste drie jaar in die toepaslike vakke.
  • Genoeg slaap en voedsame etes en peuselhappies dra tot beter konsentrasie by.
  • Wissel leersessies met ontspanning en oefening af.
  • Identifiseer angs en depressie en doen iets daaromtrent. Gewone asemhalingsoefeninge help vir angstige oomblikke. Haal vyf asemteue deur die neus in wat vir vyf tellings ingehou word, en dan by die mond uitgeblaas word. Herhaal ’n paar keer totdat jy kalmer voel.
  • Indien iets soos ’n verhoudingsprobleem jou pla, gesels met iemand daaroor. Skryf die probleem op ’n papier neer en “parkeer” dit in ’n laai of boek tot ná ’n vraestel wanneer jy daaraan aandag kan gee.
  • Beplan jou studierooster en deel jou studietyd só in dat jy die meeste tyd aan jou moeilike vakke of die met die meeste werk kan bestee.
  • Organiseer los blaaie in afsonderlike lêers, een vir elke vak, en hou opsommings van die verskillende vakke bymekaar.
  • Werk deur vraestelle van die laaste drie jaar, beantwoord dit en vergelyk jou antwoorde met die memorandums op dieselfde webtuistes. Dit is gratis aflaaibaar.
  • Kyk wat jy verkeerd gedoen het en leer so uit jou foute. Neem waar op watter manier die vrae gestel word, en kyk na die puntetellings by elke vraag. Dit dui aan hoe kort of lank ’n antwoord moet wees.

Besoek die volgende webtuistes vir wenke en vraestelle: afrikaans.com; education.gov.za; en sapapers.co.za.

Elkeen het eie leerstyl

Elke leerling het ’n unieke leerstyl, soos visueel, ouditief en sosiaal, sê Esther Venter, dekaan by Stadio in ’n artikel in Die Burger.

Sy stel voor dat ’n tydsgegronde studieplan saamgestel word wat duidelike doelwitte uiteensit. Dié doelwitte word saamgestel deur die werk wat geleer moet word, in afdelings te organiseer en vir elk ’n skedule toe te ken.

Organiseer en verfyn hierna notas volgens die voorkeurleerstyl.

  • Ouditiewe leerlinge baat by die voorlees van hul werk; wat hulle selfs kan opneem en later daarna luister.
  • Visuele leerlinge gebruik notas, breinkaarte, grafieke of tekeninge.
  • Sosiale leerlinge kan in groepe werk waar hulle mekaar oor die inhoud uitvra en elk die werk op sy manier verduidelik.

Venter stel voor om elke aand dieselfde tyd te gaan slaap, verkieslik voor 22:00. Moet jouself nie mislei en die wekker vir 04:00 stel om op staan, maar dan vir twee uur lank die “snooze”-knoppie te druk nie.

Eet reg; gee jou brein kos

  • Leerlinge wat ontbyt eet, vaar beter in ’n eksamen as dié wat nie ontbyt eet nie.
  • ’n Mens fokus beter wanneer jy genoeg water drink; ongeveer twee liter per dag.
  • Gaskoeldrank en energiedrankies bevat baie suiker; dit veroorsaak ’n suikerpiek, gevolg deur totale moegheid.
  • Moet nie maaltye mis nie; dit lei tot moegheid en swakker konsentrasie.
  • Vermy dit om ’n emosionele eter van lekkergoed, skyfies en wegneemetes te wees. Dit bevat groot hoeveelhede suiker, vet en sout wat nie voedsaam is nie.
  • Volgraanbrood, grondboontjiebotter, vis, neute, sade, jogurt, vleis, eiers, vrugte, en rou groente soos wortels en tamaties is “kos vir die brein”, en kan maklik in peuselhappies of maaltye omskep word, aldus ’n dieëtkundige van die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article