Die Rooimiere besig om ’n uitsettingsbevel in Kuruman uit te voer.

Foto: Videoskermgreep

Inwoners wat besorg is oor misdaad en die verval van Kuruman, verwelkom die besluit van die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit om ’n aantal vervalle geboue en sinkhuise op erwe langs die R31-roete (Tseningweg), waarop ’n nuwe inkopiesentrum beplan word, af te breek.

Die huurders van die geboue waarin onder meer motorband- en mutihandelaars, ’n drankwinkel, haarsalonne en supermarkte was, is met ’n hofbevel verwyder ná ’n hofgeding wat ’n jaar gesloer het.

Een besorgde inwoner sê persele was vervalle, vuil, ’n onooglikheid en ’n misdaadnes.

“Daar is met dwelms handel gedryf en misdadigers het daar geskuil. Van die geboue is ook deur brande beskadig. Ons sal ’n nuwe, skoon gebou of inkopiesentrum verwelkom.”

Hy sê sedert die uitsettingsbevel verlede week uitgevoer is, waarin die polisie en die Rooimiere die munisipaliteit bygestaan het, is die misdaad in die gebied minder en misdadigers het elders heen verskuif.

Die Rooimiere is ’n private multidissiplinêre veiligheids­maatskappy wat onder meer in hervestiging en uitsetting spesialiseer.

Volgens die inwoner, wat verkies om anoniem te bly, het misdadigheid in Kuruman afgeneem danksy meer gereelde patrollies deur die polisie en die gemeenskaps­polisiëringsforums (GPF).

Hooggeregshofbevel uitgevoer
Martin Tsatsimpe, munisipale bestuurder, sê in ’n verklaring hulle het ’n hooggeregshofbevel uitgevoer op die erwe wat eens deur Transnet besit is, maar later aan die munisipaliteit geskenk is.

“Die uitsettings en sloping van formele en informele strukture baan die weg vir die ontwikkeling van die Segonyana Mall.

“Dié ontwikkeling is deel van die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan.

“Ons was vir meer as vier jaar in ’n regstryd met huurders betrokke wat die grond beset het. Die huurders het ondanks verskeie uitsettingskennisgewings geweier om die perseel te ontruim.

“Op 19 Januarie het die Noord-Kaapse hooggeregshof in ons guns as die titelakte-houer beslis. Die huurders se appèlaansoek is op 18 Junie van die hand gewys. Die Segonyana Mall-ontwikkeling gaan die gebied transformeer, wat na raming 500 nuwe werksgeleenthede meebring en die plaaslike infrastruktuur sal opgeknap word. Die projek sal veiligheid en sekuriteit verbeter en bydra tot die groter ekonomiese groei van Kuruman.”

Tsatsimpe sê die besetters moet besef dit is onregmatig om munisipale grond onwettig te beset.

“Dit is onregverdig teenoor inwoners om ontwikkeling en verbetering van openbare eiendom teen te staan. Die munisipaliteit moet volhoubare ontwikkeling bewerkstellig wat ook munisipale inkomste bied om dienslewering te verbeter.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article