Dieter Meyer (76), wie Saterdag 12 Oktober sy 600ste parkrun voltooi het, by Sammy Louw, voorsitter van die Kimberley Harriers Running Club waar Meyer lid is.

Foto: Helena Barnard

Met sy 600ste parkrun wat hy die afgelope naweek kafgedraf het, mik die 76-jarige Dieter Meyer na die 800-kerf, en indien moontlik, selfs die 1 000-kerf.

“Delta Dieter”, soos hy bekend is, was een van die 26 atlete wat in November 2011 die eerste parkrun in Suid-Afrika saam met Bruce Fordyce, uitvoerende hoof van parkrun in Suid-Afrika, by Delta Park voltooi het.

parkrun

Die 76-jarige Dieter Meyer (middel) het op Saterdag 12 Oktober sy 600ste parkrun-geleentheid voltooi. “Delta Dieter”, soos hy bekend is, was een van die 26 atlete wat in November 2011 die eerste parkrun in Suid-Afrika by Delta Park saam met Bruce Fordyce voltooi het. Atlete van die Kimberley Harriers Running Club, van wie Meyer lid is, het Saterdag sy mylpaal tydens die Kimberley-parkrun by Rooifontein meegemaak. Van links is Liesl Lightfoot, Farrell Moses, Roshelle Jacobs, Meyer, Sammy Louw (voorsitter), en Ria en David Janse van Vuuren.

Sy 500ste parkrun het hy in Oktober 2022 saam met Fordyce by Delta Park voltooi.

Meyer het nie net die 3 000 km van die 600 parkruns onder sy voete voel verbyvlieg nie.

Hy het onder meer ’n blou nommer vir die Two Oceans- en ’n groen nommer vir die Comrades-ultramarathon. Die voltooiing van tientalle bergwedlope, die Midmar-myl wat hy nagenoeg 17 keer geswem het, asook fietsrenne – onder meer die Cape Town Cycle Tour wat hy 13 keer voltooi het – skets sy passie vir sport.

parkrun

‘n Spesiale koek, asook ‘n T-hemp, is vir Dieter Meyer gereed gekry vir die voltooiing van sy 600ste parkrun.

Die afgelope Saterdag, 12 Oktober, het talle atlete van die Kimberley Harriers Running Club, waar hy ’n lid is, aan die Kimberley-parkrun by Rooifontein deelgeneem om in Meyer se prestasie en vreugde te deel.

Sammy Louw, voorsitter, en Dave Janse van Vuuren, wat onder meer 30 Comrades-ultramarathons voltooi het, het saam met Meyer oor die eindstreep gehardloop.

parkrun

Twee lede van die Kimberley Harriers Running Club, David Janse van Vuuren (links, wie reeds 30 Comrades-ultramarathons voltooi het) en Sammy Louw (regs, voorsitter van die klub), het die eindstreep van Dieter Meyer se 600ste parkrun saam met hom genader.

’n Koek, spesiaal vir Meyer gebak, is ná die tyd met ander parkrunners gedeel.

Meyer het al op meer as 120 verskillende plekke aan parkrun-geleenthede deelgeneem. Die beste tyd wat hy behaal het, is 22:59.

Oor die voltooiing van sy 600ste parkrun in 35:15 het Meyer gesê dat hy “on top of the world” voel.

Hy het mense aangemoedig om uit die huis te kom en saam met hul kinders aktief te wees.

  • Die Kimberley-parkrun vind elke Saterdag om 07:00 plaas.
  • Besoek die Facebook-blad vir meer foto’s en inligting. 
parkrun

Dieter Meyer (76) se voltooiing van sy 600ste parkrun, wat by die Kimberley parkrun by Rooifontein plaasgevind het, het heelwat mediabelangstelling uitgelok.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article