Twee verdagtes wat in hegtenis geneem is nadat ’n winkeleienaar van Kathu met vermoedelik ’n hamer aangeval is, het op Woensdag 9 Oktober vlugtig in die landdroshof in Kathu verskyn.
Kgotso Gaobuse (19) en Mosimanegape Bloem (41) is in hegtenis geneem ná die moord op Mohammed Ferazi (31) die vorige dag by sy winkel in Sederstraat.
Ferazi het aan die beserings beswyk wat hy opgedoen het nadat die twee verdagtes die winkel glo binnegegaan en hom aangeval het.
Die winkel is daarna beroof.
Gaobuse is sowat ’n uur ná die voorval by ’n stortingsterrein in Kathu vasgetrek, en Bloem die aand by ’n huis in Siyathemba.
Volgens Anna-Marie Caetano, DA-raadslid in die Gamagara-munisipaliteit, is een van die verdagtes glo ’n gewoontemisdadiger wat die afgelope maand drie keer deur die gemeenskapspolisiëringsforum aangekeer is.
Die verdagtes sou weer op Dinsdag 15 Oktober in die hof verskyn, sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder.
Enigeen met meer inligting oor die voorval kan sers. Thamsanqa Mangaliso by 073-804-4316 kontak.




