Tydens ons gesprek oor inligting wat syfers bymekaar moet sit, maak hy melding dat hy binnekort ’n operasie ondergaan.

Ons gesels nog ’n geruime tyd oor die betrokke inligting.

“Mag ek vra of jy siek is?” vra ek voordat ons aflui.

Hy verduidelik in kort dat hy ’n nier vir iemand gaan skenk.

My maag maak ’n draai.

Hy is jonk. Ambisieus. Talentvol. Skrander.

Die vraag of die skenking vir ’n familielid is, kom by my op.

Ek vra hom daaroor uit.

“Nee, dis iemand wat ek van die kerk af ken,” sê hy.

“Dit voel vir my of dit iets is wat ek wil doen.”

Ek weeg sy woorde op.

Min mense sou dit doen.

Een van my onlangse rubrieke gaan juis daaroor dat daar min sulke mense is.

Ek wonder of hy my rubriek gelees het.

Dit is iets wat die wêreld kortkom: moed.

Moed om te gee.

Moed om om te gee.

Moed om betrokke te raak.

Moed om ’n begin te maak.

’n Mens hoef nie uit die staanspoor noodwendig ’n orgaan te skenk terwyl jy leef nie, maar iewers moet ’n mens begin.

Soms aanvaar ’n mens dat baie dinge in plek moet val voordat ’n mens betrokke kan raak of ’n groot besluit kan neem.

Geleentheid. Geld. Deursettingsvermoë.

Ja, al hierdie dinge is dalk nodig.

Maar dit begin met iets eenvoudigs.

Soos moed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article