Die Noord-Kaapse
departement van onderwys glo genoeg en meer is gedoen om vanjaar se
provinsiale slaagsyfer in die nasionale seniorsertifikaateksamen nader aan die
2023 nasionale gemiddeld van 82,9% te bring.
Die provinsie was
verlede jaar met ’n slaagsyfer van 75,8% die swakste van die nege provinsies.
Dit kom op die vooraand van die eksamen wat Maandag 21 Oktober begin het en op 27
November eindig.
Abraham Vosloo,
LUR vir onderwys, sê die Noord-Kaapse slaagsyfer is die afgelope vier jaar
besig om te verbeter.
Hy is vol
vertroue dat sekuriteitsmaatreëls en spesiaal aangestelde amptenare
oneerlikheid sal voorkom. Matrikulante het Vrydag18 Oktober ’n eed onderteken dat hulle
nie sal kul nie. Vosloo en sy amptenare was by die Hoërskool Tetlanyo in
Kimberley om die seremonie gade te slaan.
Altesaam 13 111 heeltydse en 1 601 deeltydse kandidate van 141 openbare
skole, vyf onafhanklike skole en vier distriksentrums gaan in die provinsie
eksamen skryf.
Antwoordstelle
sal van 4 tot 12 Desember by vier sentra deur ervare en kundige nasieners
gemerk word. Die uitslae word op 16 Januarie bekendgemaak.
Talle ingrypings gedoen
Vosloo meen dié
groep leerlinge is die ergste deur die Covid-19-pandemie getref omdat hulle as
gr. 8-leerlinge laaste
teruggekeer het skool toe.
Van die
ingrypings om die slaagsyfer te verbeter, sluit in Saterdae-lesse en
naweek-studie, winter en herfskampe wat deur 9 000 leerlinge bygewoon is, bykomende
ondersteuning by skole, vakklinieke, en ’n e-leer inisiatief
waarby leerlinge tablette ontvang het waarop die leermateriaal reeds gelaai is.
“Ons het
onderwysers verder opgelei in wiskunde en die wetenskap-vakke. Bykomende
diensverskaffers is aangestel om leerlinge by te staan in die Frances Baard- en
John Taole Gaetsewe-distrikte, waar die meeste matrikulante is.”
Volgens hom gaan
668 onderwysers danksy besparingsmaatreëls nie hul werk verloor nie ná
begrotingsbesnoeiings deur die Tesourie aangekondig. Die onderwysers se koste
beloop R358 miljoen.
“Ons besnoei op
projekte wat op ys gesit is, wat in die volgende geldjaar voortduur. Tot nou is
sowat R47 miljoen bespaar.”
Laat opdaag by skool is swak dissipline
Vosloo en
hooggeplaaste amptenare erken dis swak dissipline wanneer leerlinge lank ná
08:00 by skole opdaag en dat dit bydra tot die aantal wanfunksionele skole waar
die matriekslaagsyfer baie laag is.
Dr. Michelle
Ishmael, waarnemende departementshoof, sê die Nasionale
Onderwyssamewerkingstrust (NECT) staan hulle by om wanfunksionele skole met lae
slaagsyfers reg te ruk.
“Ons volg ’n
geteikende benadering en tien skole in Frances Baard is geïdentifiseer, asook
ander in John Taole Gaetsewe. Die basiese funksionering van die skole moet
reggeruk word en die skole op volhoubare wyse bemagtig word. Die ingryping
behels dat die kultuur ten goede moet verander, en rolspelers soos die ouers en
hele gemeenskap betrokke is.”
Vosloo sê dit
neem tyd, en die proses begin by die ouers.
“Die ouers moet
aandring dat kinders betyds by die skool is. Daarby moet onderwysers klasgee,
en bestuurders moet beheer toepas. Dit is klein dingetjies wat die groot
verskil kan maak.
“Ons sal meer
werkswinkels en vergaderings by skole en in die gemeenskap hou en opleiding aan
skoolbeheerliggame en selfs onderwysers gee. Ons is op die regte pad, en ek is
seker ons sal binne twee jaar ’n verskil sien sodra al die rolspelers
saamwerk,” sê Vosloo.




