Sokkerspelers en atlete wat by die De Beers-stadion in Kimberley oefen, sê die geriewe is “ ’n afgeleefde onooglikheid” waar hulle tussen dorings en gate met gehawende toerusting moet oefen.
Dit is eens as die “trots” van die Noord-Kaap beskryf, danksy ’n uitstekende tartan-atletiekbaan en sportveld.
Die stadion, in besit van die Sol Plaatje-munisipaliteit, word deur Noord-Kaapse topatlete gebruik waar hulle oefen om vir Suid-Afrikaanse nasionale kampioenskappe te kwalifiseer. Die Diamond City-sokkerspan oefen daagliks om in sy liga te presteer.
Twee atletiekafrigters, Gerhard Prinsloo en Wilmo Vermeulen, asook ’n ouer van ’n 11-jarige atleet en die afrigter van die sokkerspan, sê hulle is al raadop – en versoeke om die baan, geriewe en sokkerveld op te knap, val op dowe ore.
Ntele Khathatse, fiksheidsafrigter van die Diamond City-sokkerspan, sê die veld is ongelyk, met kaal kolle en gate waar die besproeiingspuite moet wees, met onkruid en dorings.
“Ek het twee jaar gelede hier aangekom en was toe al geskok oor die toestand van die stadion, vergeleke met ander in die land. Die badkamers is vuil en afgeleef, en baie keer gesluit. Ons is gedwing om op die veld uit en aan te trek. Ons klubvoorsitter het by die munisipaliteit gekla, sonder daadwerklike optrede.”
Die atletiekafrigters se klagtes sluit in dat die tartanbaan se oppervlak vol gras en klippe is, met onkruid en duwweltjies op die gras rondom die bane en ook by die verspringput wat kaalvoetatlete dwing om skoeisel tussenin te dra. Die spreiligte is geroes, en die hamergooinette is vol gate wat gevaarlik is sou ’n hamer ’n ander atleet tref. Stukkende toerusting soos hekkies word in ’n hoek by ander gemors gegooi waar onkruid groei.
Prinsloo sê die verspringput is met die verkeerde sand gevul; dit moet soos fyn seesand wees.
Hy sê verder die badkamers is vuil en afgeleef, en stink na urine.
Die atlete betaal elk R280 per maand vir die gebruik van die stadion, asook R70 per oefensessie, terwyl hulle voorheen net R200 vir die hele seisoen betaal het.
“Atletiek Griekwaland-Wes (AGW) het sy kantoor van hier geskuif weens ’n dispuut met die munisipaliteit oor die toestand van die gebouekompleks en geriewe. Dit word vandaliseer en krane en kameratoerusting by die wenpaal is gesteel.”
Vermeulen sê daar is selde munisipale werkers ná 14:00 aan diens.
“Indien hulle hier is, sit hulle rond en sê die toerusting is toegesluit en hulle kan nie werk nie.”
Een van die hekkie-atlete se ouers sê laerskoolkinders wat kaalvoet atletiek doen, word benadeel deur die gruis, klippe en dorings.
“Toe ons eenkeer hier was vir ’n atletiekbyeenkoms was dit so vuil van papiere en bierbottels ná ’n sokkerwedstryd, dat ons nie op die paviljoene kon sit nie.”
Assessering versoek
Die Premiersokkerliga (PSL) is versoek om ’n assessering te doen om die geriewe by die De Beers-stadion in Kimberley tot op die vereiste PSL-standaard op te knap.
Dié versoek is gerig deur die Sol Plaatje-munisipaliteit se sport, kuns en ontspanningsafdeling, tesame met die Hungry Lions Football-klub, sê Thabo Mothibi, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit,
“Ons wil as gasheer die stadion beskikbaar stel vir groot sokkerwedstryde.
“Ons versoek is dat die bekroonde Ronni Scholls die assessering doen en leiding gee oor die nodige verbeterings.
Die aanbevelings sal vir die herstel- en opknappings-ingryping gebruik word.
“Die stadion is in die 1920’s gebou en op 26 November 1926 geopen.
“Die vorige verbeterings was in 2019 en 2020, en befonds deur die munisipale infrastruktuurtoekennigs (MIG)-toelaag.
“Ons sal nie ophou om geld te versoek om sportgeriewe te moderniseer nie.”
Mothibi sê hulle gaan die organigram aanpas en geld beskikbaar maak om ’n terreinopsigter aan te stel wat ook die sportterrein bestuur, nie net die gemeenskapsale nie.
“Die waterbeperkings beperk personeel om die veld nat te maak. Twee ry-grassnyers is in Julie 2024 afgelewer vir die instandhouding van die Galeshewe- en De Beers-stadia-velde.
“Ons het egter ’n probleem met onwettige diamantdelwers wat ’n veiligheids- en sekuriteitsrisiko vir die personeel en eiendom inhou weens ’n gebrek aan sekuriteit by die meeste munisipale eiendomme,” sê Mothibi.




