Die man wat aangekla word van die moord op sy eksvrou twee dae ná Kersfees in Desember 2023 in haar huis in Beaconsfield, Kimberley, se verhoor sal in Maart in die hooggeregshof begin.
Dit volg ná nog ’n hooggeregshofverskyning van Alberto Matthews (47) wat onder meer aangekla word van die skietdood van Mandy Bailey (43) in haar huis voor haar negejarige dogter.
Matthews is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy het twee onsuksesvolle borgtogaansoeke in die landdroshof in Kimberley gebring.
Tydens dié verskynings het vriende en familie van Bailey voor die hof betoog en hul misnoeë oor haar moord te kenne gegee. ’n Petisie is ook ingedien dat hy nie borgtog moet kry nie.
Dinsdag 5 November het hy emosieloos in die beskuldigdebank gesit. Twee van sy familielede het vlak agter hom gesit. Die oorledene se familie het in ’n groepie gesit en die verrigtinge fyn dopgehou.
Ronelle Booysen, Bailey se enigste suster, het voorheen op haar Facebook-profiel geskryf hoe die moord hul familie geruk het.
“Hy het haar en haar kinders se veilige ruimte binnegedring, en haar na bewering voor almal doodgemaak. Hy het ook glo probeer om ander familielede te skiet. Die bedreiging vir ons familie wat na haar kinders moet omsien, kan nie ligtelik opgeneem word nie. Ons vrees vir ons lewe, niemand weet wie is die volgende slagoffer nie. Dit is hoekom hy nie borgtog moes kry nie. Die borgtogaansoeke was baie emosioneel vir ons.
“My suster het nie verdien om só heen te gaan nie. Sy was in die fleur van haar lewe. Hy het besluit wat met haar en haar geliefdes se lewe moet gebeur; ’n man sonder ’n hart. Iemand wat sy eens liefgehad, voor goed was en vertrou het. Haar dogter sal nooit haar ma ken nie, net hartseer herinneringe is oor.”
Adv. Leshnee Pillay kla aan. Heinrich Steynberg van Regshulp Suid-Afrika tree namens Matthews op. Regter Almé Stanton het die verhoor tot 24 Maart uitgestel.





