Korrupte verhoudings het na bewering tussen diensverskaffers en sekere amptenare van die Noord-Kaapse departement van gesondheid bestaan.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sê hy ondersoek ook nou ses diensverskaffers vir bedrog en korrupsie vir die voorsiening van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) tydens die Covid-19-pandemie.
Dit is die einde Oktober in die SOE se jongste vorderingsverslag oor sy ondersoek by onder meer dié departement aan die parlementêre portefeuljekomitee vir justisie en grondwetlike ontwikkeling gemeld.
Maruping Lekwene, Noord-Kaapse LUR vir gesondheid, het onlangs aangedring dat dr. Dion Theys steeds sy departementshoof is, al is Theys en Daniel Gaborone, finansiële hoof, van bedrog en korrupsie in ’n PPE-saak aangekla.
Adv. Andy Mothibi, SOE-hoof, sê nege verwysings in Noord-Kaapse PPE-sake is reeds aan die Valke gemaak, en die verdagtes (soos Theys en Gaborone) in hegtenis geneem.
Nog verwysings is na die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid gemaak om op die bates van twee diensverskaffers beslag te lê.
Verwysings is ook gemaak waarin amptenare aan tugprosesse onderwerp en geskors is en ’n gedeelte van hul salarisse verbeur is.
’n Finale waarskuwing is aan een amptenaar uitgereik. Ander sake is na die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Suid-Afrikaanse Gesondheidproduktebeheerraad (Saphra) en die Kompetisiekommissie verwys.
Die SOE het in die PPE-ondersoek bevind sekere senior amptenare het hul gesag misbruik om te verseker kontrakte word aan bepaalde diensverskaffers toegeken. Vereiste verkrygingsprosedures en -praktyke is nie gevolg nie. Van die toerusting en produkte wat verskaf is, het nie ingevolge die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe aan die Saphra-standaarde en regulasies voldoen nie.
Voorts het die departement sommige PPE-items aangekoop wat die tesourie se aanbevole pryse oorskry het. Van die toerusting is nie afgelewer nie en fakture is moontlik vervals.
Die departement het nie voldoen aan Nasionale Tesourie-regulasies, die PFMA en verkrygingsmaatreëls nie.
Die SOE het drie verwysings gemaak na die Regspraktykraad (LPC) in ’n saak van R128 miljoen. Nog vier potensieel bedrieglike sake van R169 miljoen is geïdentifiseer.
Mothibi sê tien sake is teruggetrek toe hulle die prokureur gekonfronteer en laasgenoemde nie die volmag van hul kliënte kon toon nie.
Die SOE is besig met verwysings na die LPC en NVG.
Altesaam 114 mediese-regseise ter waarde van R1,5 miljard is onder die loep geneem. Hiervan is 42 sake van drie regsfirmas as moontlike bedrieglike eise uitgewys. Nog 98 verdagte eise word forensies ondersoek. Die SOE het verskeie onreëlmatighede uitgewys waarin prokureurs sonder volmag eise indien, en moontlik met behulp van korrupte amptenare.





