’n Nuwe rolstoel vir elk het die lewe vir twee Noord-Kapenaars verbeter.
Op Woensdag 30 Oktober het Kelebogile Geyers van Delportshoop en Masego Modirapula van Windsorton rolstoele ontvang wat deur FNB se openbaresake-bankdienste aan die Vereniging vir en van Persone met Gestremdhede in die Frances Baard-distrik (APD FB) geskenk is.
’n Derde rolstoel sal nog oorhandig word.
Dorothy-Anne Howitson van die APD FB sê die ontvangers se glimlag spreek vanself.
“Vir persone met gestremdhede is hulpmiddels nie ’n luukse nie. Dit is van uiterste belang om afsondering te voorkom.”
Die gesondheidsdepartement het nie ’n begroting vir hulpmiddels nie, en in die geval van kinders is daar die kans dat die kind nie skoolonderrig ontvang sonder ’n hulpmiddel nie.





