Met die bekendstelling van ons saamgebundelde Twyfelhoekie-rubrieke kry ek geleentheid om op ou spore terug te stap.
Terug op bedieningspore, terug op grootwordspore, terug na oudkollegas, oudlidmate, familie en vriende en sommer net ou spore.
Ek kry die geleentheid om weer stil te staan by wat was. Ek groet mense wat ek lank nie gesien het nie, kuier op plekke waarvan ek al vergeet het en soek-soek in my gedagtes na nog en nog onthou.
En ek besef: Ons moenie bang wees vir ou spore nie. Ons ou spore het ons gevorm en rig ons.
Daar waar ons was, het ons gebring waar ons vandag is.
’n Mens maak foute. En jy groei en oordink.
Dit word net weer vir my duidelik die mense wat jou pad kruis, kruis jou pad met ’n doel; die plekke waar jy spore laat, was nodig om te besoek.
Soms is die onthou goed, soms is die onthou seer, maar weer en weer, altyd dieselfde lewensles: Pas die mense op jou lewenspad op. Jy wil graag kan teruggaan op jou spore.
Waar jy seergekry het, leer daaruit en bou vorentoe. Waar jy seergemaak het, leer daaruit en groei en wees opreg jammer.
Ons kan dink en beredeneer soos ons wil, maar plekke en mense maak ons lewe vol. Dit is mooi en dit is goed.
Laat nuwe spore, maar soms: Draai ’n oomblik terug en onthou die plekke en mense wat help vorm het wie jy is.


