Die “onverwagse oornag-aankondiging” van die ANC waarin hy ingrypende vervanging van raadslede en ampsdraers op hoë vlak in die beleërde Sol Plaatje- en Dawid Kruiper-munisipaliteit in onderskeidelik Kimberley en Upington doen, het ook ’n fladdering onder opposisiepartye veroorsaak.
Hoewel die ANC nuwe burgemeesters en speakers aangewys het, is dit nie ’n gegewe dat hulle sal dien nie omdat moontlike tussenverkiesing gehou kan word en opposisiepartye hul eie kandidate as burgemeester en speakers kan voorstel, wat ’n geheime stemming in raadsvergaderings kan afdwing.
Terwyl die DA “wil sien wat gebeur”, sê die VF Plus dat die provinsie nie net ’n krisis binne munisipaliteite ervaar nie, maar ook op die politieke speelveld.
“Vandaar die onverwagse oornag-aankondiging,” sê Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier en LP.
Die Sol Plaatje-munisipaliteit is verlede week van ’n kategorie vyf-munisipaliteit tot kategorie vier afgegradeer. Die Valke doen ’n ondersoek na korrupsie by die Dawid Kruiper-munisipaliteit en het ook verlede jaar ondersoek by die Sol Plaatje-munisipaliteit gedoen.
Deshi Ngxanga, ANC-provinsiale sekretaris, sê in ’n verklaring dat die party introspeksie gedoen het ná sy nederlaag in die afgelope verkiesing.
Hy sê die nuwe aanwysings is mense met bewese ervaring, wysheid en leierskapsvermoëns.
David Kazi word in die plek van Michael Sigede as die uitvoerende burgemeester van die Dawid Kruiper-munisipaliteit aangestel. Sigede sal na die parlement herontplooi word.
By die Sol Plaatje-munisipaliteit word Martha Barbara Bartlett in die plek van Kagisho Sonyoni as uitvoerende burgemeester ontplooi. Sonyoni word as burgemeesterskomiteelid by die Frances Baard-distriksmunisipaliteit ontplooi.
Die adjunkminister van kleinsakeontwikkeling, Dipuo Peters, eens die minister van energie en vervoer en Noord-Kaapse premier, word die speaker in die Sol Plaatje-munisipaliteit in die plek van Nomazizi Shwababa, wat ’n burgermeesterkomiteelid word.
‘Wil strukture meer funksioneel maak’
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, sê ná die onlangse nasionale, provinsiale en 2021 se munisipale verkiesings, is daar momentele verskuiwings in die politiek na links en regs.
“Daar is ’n verbrokkeling van die politieke prosesse met meer identiteitspolitiek wat uitspeel as ’n mens kyk na die opkoms van die Patriotic Alliance en die invloed daarvan.
“Die ANC is beslis besig met voorbereidings vir die 2026 munisipale verkiesing. Die ANC wil sy strukture meer funksioneel maak, soos gesien in Noordwes waar munisipale bestuurders herroep word, en wat nou in die Noord-Kaap gebeur.
“Die ANC in die Noord-Kaap onder dr. Zamani Saul se leiding is een van die beter ANC-regeerde provinsies waar ’n meer gematigde atmosfeer van bereidwilligheid heers om meer effektief dienste te lewer.
Die ANC moet hulself beskerm, want hy presteer swakker op munisipale vlak as provinsiaal en nasionaal. Die Noord-Kaapse ANC is meer sensitief en realisties oor die risiko’s van die volgende verkiesing en weet dienslewering is ’n uiters belangrike kwessie onder kiesers, sê Duvenhage.
“Hoewel Saul geprys wil wees vir sy provinsiale megaprojekte, weet hy die watertekorte in Kimberley en infrastruktuur wat uitmekaar val, moet veral opgelos word. Die verkiesing gaan oor die inwoners se basiese behoeftes, en die nuutste skuiwe is ter voorbereiding daarop.”
Dat Peters in die speakerstoel gaan sit, is moontlik ’n teken dat sy ná ’n lang politieke loopbaan wegskuif van die moontlike onstuimige breuke wat op die ANC wag.
“Die lang messe is uit, en persoonlike oorwegings speel vir Peters moontlik ’n groter rol as politieke ambisie.”
Saul beweeg baie naby aan pres. Cyril Ramaphosa, wat toenemend weerstand van sekeres in die ANC en die SAKP ervaar.
“Kragte is aan die opbou teen Ramaphosa, veral as die Regering van Nasionale Eenheid misluk. Die SAKP kan dalk selfs met behulp van die MP-party in ’n politieke staatsgreep poog om Ramaphosa uit die kussings te lug in ’n heroorname van die ANC, wat met die gewelddadige betogings in 2021 misluk het,” sê hy.





