Wanneer Jesus sy openbare bediening in Galilea begin, sê Hy: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom.” (Markus 1:15)
Die Griekse taal het twee woorde vir tyd gehad: “chronos” en “kairos”. Van die eerste kom die woord “kronologie”.
Chronos-tyd is nie altyd goed vir ons nie. Ons wil partykeer hê dit moet stilstaan. Soms is dit vervelige tyd, sleurtyd, leë tyd: Die soort tyd wat gevangenes in ’n sel beleef, of wanneer jy in ’n dokter se spreekkamer wag.
Dank Vader, daar is ook ’n ander soort tyd: Kairos-tyd: Dit is vol tyd, noodsaaklik, beslissend, besluitnemingstyd, God se tyd.
Dit is spesiale oomblikke vol betekenis; wanneer God in ons daaglikse roetine (horlosietyd) inbreek en so helder en duidelik met ons praat; en jy so diep geraak word, dat jy nooit weer dieselfde is nie.
In die Oosters-Ortodokse Kerk word dié woorde aan die begin van die liturgie uitgespreek: “Dit is tyd (kairos) vir die Here om te handel.”
Jesus se hele bediening was met kairos-oomblikke gevul. Beslissende oomblikke waarin hy mense teëkom, ontmoet, as’t ware met sy liefde oorrompel. Ons dink aan die klein tollenaar, Saggeus; die verlamde wat deur die dak laat sak is; die blinde Bartimeus.
Jesus sê: Die tyd het aangebreek en die koninkryk van God is naby.
Ja, in ons horlosietyd word dit koninkryk-tyd. Dit is die tyd van God se koninkryk, heerskappy, regering. Dit is die tyd waarin dit duidelik word dat God koning is.
Mag ook ons ervaar dat sy koninkryk naby is.


