Rayno Nel
Rayno Nel

’n Oud-Upingtonner, die 29-jarige Rayno Nel, is as die kampioen op ’n wêreldbyeenkoms van die Strongman Champions League (SCL) aangewys.

Dié byeenkoms op 8 en 9 November in Turkye het Nel met ’n agterstand van tien punte aangepak, maar hy het steeds as wenner uit die stryd getree.

Nel, wat 191 cm in sy sokkies staan, is geen onbekende in sportkringe nie. Hy was onder meer drie jaar lank die kaptein van die eerste rugbyspan van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) in Bloemfontein, waar hy elektriese ingenieurswese studeer het.

Hy was ook op die veld as ’n Cheetah-speler.

In Januarie verlede jaar het hy besluit om sterkman­kompetisies aan te pak.

Reeds met sy eerste deelname aan ’n sterkman­kompetisie in Suid-Afrika het hy as oorwinnaar uit die stryd getree.

Nel is hierna genooi om internasionaal aan SCL-byeenkomste in Rusland en Nederland deel te neem.

Ongeag daarvan dat hy beentjies in sy voet op die Siberian Power Show-byeenkoms in Mei in Rusland gekraak het, het hy vierde geëindig.

In Junie het hy die SCL-byeenkoms in Nederland gewen, en vroeg in Julie die SCL-Afrika-byeenkoms in Kaapstad. Te danke aan sy oorwinnings het Nel vir die SCL-wêreldbyeenkoms in Turkye kwalifiseer.

Rayno Nel tydens die Afrika-byeenkoms in Kaapstad.

Omdat hy weens werkverpligtinge nie aan nege spesifieke SCL-byeenkomste kon deelneem nie, is hy in die tiende plek geplaas, met ’n agterstand van tien punte.

Sy deelname in Turkye het met ’n rekord-hantering van 31 sekondes in die “block press medley” begin.

Hy het ’n eerste plek behaal in die 180 kg-sandsakdra oor 60 m op strandsand, en in die 75 kg natuurlike rotsgooi-nommer.

Op die tweede dag het hy onder meer die vragmotor­trek van nagenoeg 16 000 kg oor ’n afstand van 25 m aangepak, asook die “car deadlift” en “stone lifts”.

Nel het in 2013 aan die Hoërskool Duineveld matrikuleer, en daarna aan die SUT studeer. Hy woon en werk in Gauteng.

Sy ouers, Jannie en Bernice Nel, bly steeds in Upington.

Sy raad aan sport­geesdriftiges is om ook ander sportsoorte te probeer om jou liggaam optimaal te ontwikkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article