Elke bydrae wat vir haar kankerbehandeling ontvang word, beskou ’n inwoner van Kimberley as ’n groot wonderwerk.
Tharina van Tonder, wat as “geliefd en onvergeetlik” beskryf word, is in Julie met trippel-negatiewe borskanker gediagnoseer.
’n Biopsie het dié diagnose van dié 51-jarige onderwyseres, nou by die Hoërskool Noord-Kaap en voorheen onder meer by die Hoër Tegniese Skool (HTS) Kimberley en ook geen onbekende by die McGregor-museum nie, bevestig.
Dit volg ná sy in Junie ’n knop aan die kant van haar regterbors gevoel en dadelik vir ’n mammogram gegaan het.
Daar is geen geskiedenis van borskanker in haar familie nie, maar omdat sy ’n tweelingsuster het, het haar chirurg genetiese toetsing voorgestel. Dit het bevestig dat haar kanker nie oorerflik is nie.
Die hoë proteïen-indeks wat met haar diagnose bepaal is, beteken dat die selle vinnig verdeel en dat die kanker waarskynlik sal groei en versprei.
Behandeling baie duur
’n Borskankerspesialis in Kaapstad het ’n hoë dosis chemoterapie voorgeskryf, en Tharina se voorgeskrewe behandeling het reeds by dr. Theo Smalberger, ’n onkoloog by die Lenmed-hospitaal in Kimberley, begin.
Sy het reeds tweeweekliks, oor agt weke, die chemoterapiemiddel Doxorubicin asook ander chemoterapie ontvang.
Dit word met ’n weeklikse behandeling, vir 12 weke, met die chemoterapiemiddels Carboplatin en Paclitaxel opgevolg.
Tharina is nou in die agtste week van behandeling van dié 12 weke.
Keytruda, ’n immunoterapie, is ook voorgeskryf as deel van ’n uiters belangrike en integrale deel van haar behandeling aangesien dit haar kanse op oorlewing verhoog, asook die doeltreffendheid van die chemoterapie.
Sy het op 5 November die eerste Keytruda ontvang wat sy vanaf dié datum elke derde week moet ontvang.
Die Keytruda-behandeling is baie duur, en die meeste mediese skemas, selfs die top-opsies, dek nie dié behandeling nie. Die eerste dosis is juis aangeskaf toe daar genoeg geld ingesamel is om dit te koop.
Vir elke Keytruda-behandeling word nagenoeg R85 000 benodig. In totaal het sy vier sulke behandelings nodig, wat ’n totaal van sowat R350 000 beloop.
‘Bietjie en baies’ help
Om geld hiervoor in te samel het Tharina se vriendin, Anri Holder van Bloemfontein, die “Think Pink for Tharina”-veldtog op BackaBuddy begin, en ook ’n Facebook-blad.
Op Facebook en BackaBuddy is hartroerende boodskappe van mense wat Tharina onthou en volgens hul geldelike vermoë bydra.
“Ek is verstom oor hoe mense hul harte vir ander oopmaak. Ook mense wat jy van geen kant af ken nie, bel of stuur boodskappe van bemoediging en gebede.
“Ander maak geldelike bydraes namens hul familie of vriende wat teen kanker baklei of baklei het.
Só kon ’n oudleerling byvoorbeeld R20 vir die behandeling skenk.
Hierop het iemand reageer met: “Tharina van Tonder, you see how loved and unforgettable you are”.
Tharina beskryf vir Anri as ’n engel, wat “in haar besige lewe nog besig is met my.”
Anri sê wat haar die meeste van die veldtog aangryp is die ongelooflike omgeeharte van mense, al ken hulle nie vir Tharina nie.
“En van haar vorige skoolleerlinge wat net so hard saamgee om hul juffrou weer gesond te kry.
“Ons as mensdom is gemaak om mekaar in moeilike tye by te staan, en hierdie veldtog en hoe mense hul harte en beursies vir Tharina oopmaak, is net weer ’n bewys dat ons elkeen oor die vermoë beskik om aan ’n ander hoop te gee en ’n lig te wees in die donker tye van swaarkry.
“Ons elkeen het die vermoë om ’n instrument in God se hand te wees, en hierdie veldtog illustreer dit so mooi.
“Ons dink so maklik dat ons bydra te klein en onbenullig is, maar kyk net wat uitgerig kan word as almal se bietjies en baie saamgevoeg word,” sê Anri.
Tharina is getroud met Braam, en hulle het drie kinders – Kristin (27), Karlin (22) en Abri (16). Braam was onlangs self vir nege dae in die hospitaal opgeneem met bloedklonte in sy longe. Hy is intussen ontslaan.
Tharina, wie gaande oor sport is, het vroeër aan talle camino-staptogte deelgeneem om geld te help insamel vir boere in droogtegeteiserde gebiede. Haar tweelingsuster, Esté van der Merwe wat by Caritas Gemeenskapsfokus betrokke is, het dié staptogte saam met haar meegemaak.
Sy was ook deel van talle veldtogte om geld vir nie-winsgewende organisasies in die Noord-Kaap in te samel.
Trap-en-stap stu geldinsameling
Omdat die tyd min raak om genoeg geld vir Tharina se volgende Keytruda-behandeling in te samel, word ’n bergfietswedren en pretdraf of -stap aangebied.
Dit vind op Vrydag 22 November by die Rooifontein-wildsplaas buite Kimberley plaas, en word onder meer deur Breakaway Cycles en Alpha Beta Cycles aangebied.
Die geleentheid begin om 18:15 vir 18:30, en fietsryers kan vir die 60 km- of 30 km-afstand inskryf, teen onderskeidelik R150 of R100. Die 5 km-pretstap of -draf kos R50.
Inskrywings kan by Breakaway Cycles of Alpha Beta Cycles in die stad gedoen word, of om 17:00 by Rooifontein op Vrydag.
Om betrokke by die geldinsameling vir Tharina se behandeling te raak:
- kontak vir Holder by anriholder888@gmail.com of by 063-191-2124;
- besoek BackaBuddy by Think Pink for Tharina; of
- besoek Think Pink for Tharina op Facebook.




