Vanoggend toe is daar drie nuwe baba-budjies in die hokkie.
Die broeityd was suksesvol.
Dit is ’n lang proses, en volgens hul aard het die ma en pa deur daardie hele broeiproses gegaan.
Geduldig, moeisaam.
Vanoggend is die pa sommer ekstra kwaai met die kos gooi, en die ma is geduldig en beskermend, trots by haar nuwe kinders.
Die mooi van nuwe lewe gaan darem nie by een van ons verby nie.
Of dit nou die knop van ’n roos is, ’n nuwe budjie in sy hok, ’n klein diertjie in die natuur; veral die hou van ’n pasgebore baba in jou arms. Kind of kleinkind.
Die wonder van ’n nuwe lewe.
Soms wens ’n mens jy kan al hierdie nuwe lewe beskerm teen die gebeure van elke dag, teen dit wat kan verkeerd gaan en dit wat nie noodwendig glad gaan verloop nie.
Maar jy kan nie.
Die lewe moet sy loop neem.
Ek kan die budjie-ma en -pa vertel van die rotte wat die vorige keer die kleintjies doodgemaak het.
Of die roosknop van die son wat soms doodbrand.
Ek kan die ma en pa met die baba in die arms baie slegte dinge vertel wat in hierdie lewe met hul kind kan gebeur.
Maar ons hoef nie.
Ons kan die nuwe lewe in ’n ou wêreld met liefde ontvang en versorg en toevou – so lank ons kan en so goed ons kan.
Ons moet oppas en bewaar.
Om te lewe is immers kosbaar.



