Die rolprent Liesbet, wat in Roodepan in Kimberley geskryf, vervaardig, verfilm en geredigeer is en onlangs op kykNET & Kie vertoon is, was vir Eric Kok, bekroonde skrywer, vervaardiger en filmregisseur, soos ’n eerbewys ná jare se harde werk en vasbyt.
Die rolprent het in 2017 op die Facebook-blad Roodepan Stories as ’n vervolgverhaal ontstaan waarna Kok dit as ’n radiodrama verwerk wat op Radio Teemaneng uitgesaai is.
“Ek het dit later in ’n rolprentdraaiboek verwerk en sedert 2019 oral aansoek om befondsing gedoen. Ek is oneindig dankbaar vir die Nasionale Film en Videostigting wat die befondsing vir die rolprent verskaf het.
“Nie almal het my geesdrif oor die rolprent gedeel nie. Ek is dankbaar vir hul houding, want dit het my meer vasberade gemaak om te slaag.”
Verfilming aan Liesbet het in 2021 begin.
“Dit was baie taai, met Covid-19-inperkingsmaatreëls, verlammende stakings en ’n ontydige reënstorm wat die stel verwoes het wat oorgebou moes word.”
Die opwinding was groot toe die fliek vir die eerste keer in 2022 in Roodepan vertoon is en later in dieselfde jaar eerbewyse by die Thokoza-filmfees verower het.
“Die rolprent handel oor Liesbet se moedige reis as ’n veerkragtige ouma wat vir ’n beter lewe en ’n droomhuis streef. Wanneer haar vervreemde, dwelmverslaafde dogter haar kleinkind wegneem, moet sy egter kies tussen haar droom of die behoud van haar gesin.
“Die rolprent toon die unieke gees en deursettingsvermoë van die Roodepan-gemeenskap, met sy unieke uitdagings en mense se opregtheid.”
Kok sê sy pad en om Liesbet uiteindelik om TV te sien, is soortgelyk aan Liesbet se stryd.
“By die Thokoza-filmfees het ek vir Sebitwe Mogale, ’n filmregisseur ontmoet. Hy was gek ook Liesbet en het aangeraai dat ek uitsaaiers moet nader om dit te vertoon.
“Ek het kykNET genader en hulle het ingestem, maar die film se kleur en klank was tegnies onvoldoende.
“So het ek vir Mark Brunger ontmoet, bekend vir sy groot filmproduksies. Hy en sy kollegas het die film in hul aftye saamgestel om aan uitsaaistandaarde te voldoen.
“Ek was verby myself toe ek twee weke gelede hoor die rolprent word uiteindelik uitgesaai. Die terugvoering sedert die uitsending is verbysterend – van Kimberley, Kaapstad, Johannesburg en Namibië. Ek hoop kykNet sal dit weer uitsaai.
“My pa wat my altyd aangemoedig het om stories te skryf, sou so trots gewees het.”
Sy jongste rolprent is Boeta kom huis toe. Dit handel oor die wel en weë van ’n jong man te midde van werkloosheid, verslawing en familie-drama.
“Ek het soveel lesse met Liesbet geleer, dat die jongste rolprent se standaard en storielyn op ’n nog hoër standaard is. Ek het hiermee ook teenspoed gehad, want die mense wat die klank verfilm het, het daarmee weggeloop.
“Ons moes die klank oorskiet, maar dit is so goed gedoen dat kykers dit nie sal agterkom nie.”
Hy deins nie terug vir terugslae nie. Hy sê hy sal ná ’n teleurstelling die volgende dag opstaan en ’n ander plan maak om sy doel te bereik.
Boeta kom huis toe is ingeskryf by die Rustenburg- en die Johannesburg-filmfees en hy hoop om dit ook in te skryf vir die Durban- en die Silwerskerm-filmfees. Hy benodig nog geld om die finale afronding te doen. Sy kortfliek The Date, wat handel oor die gevare van apps vir romantiese ontmoetings, is by die Amajuba-filmfees ingeskryf.
Sy rolprent Breaking Barriers wat handel oor Ricardo Fitzpatrick, ’n gewigopteller van Kimberley, is onlangs as beste kort dokumentêr by die Thokoza-filmfees aangewys.
“Ek gaan nou ’n romantiese rolprent maak wat hopelik teen Februarie 2025 voltooi sal wees.
“Dit het ’n ligter aanslag as Liesbet,” sê Kok.




