Die versnelde ontwikkeling van graansilobestuurders in Suid-Afrika is nou moontlik nadat Agbiz Grain en die Peritum Agri Institute kragte saamgesnoer het.

Om ’n graansilobestuurder deur blootstelling of werkservaring beroepsgereed te kry, neem agt tot 12 jaar, en gevolglik is hierdie beroep deur AgriSeta as ’n kritiese en skaars vaardigheid gelys.

Matrikulante en diegene onder die ouderdom van 25 jaar word nou die geleentheid op ’n loopbaan in graanopberging gebied.

Dít te danke aan Agbiz Grain-lede in die graansilobedryf in samewerking met die Peritum-kollege in Bloemfontein.

Die beroepssertifikaat: Graandepotbestuurder, is ’n praktykgerigte studie wat oor twee jaar voltooi word en die student op ’n beroep in graanopbergingsbestuur voorberei.

Agbiz Grain, deel van die Landboubesigheidskamer (Agbiz), is die organisasie wat die gemeenskaplike belange van kommersiële graanhanteerders en opbergers – die Agbiz Grain-lede – deur bystand en beïnvloeding van die graanbedryf bevorder.

Jaarliks produseer Suid-Afrika gemiddeld 13,5 miljoen ton mielies en 1,9 miljoen ton koring. Bykomend hiertoe word ander grane soos gars, sorghum, sonneblom, kanola en sojabone ook op groot skaal verbou.

Ongeveer 70% van hierdie graan en oliesade wat produseer word, word deur die 12 lede van Agbiz Grain geberg. Gesamentlik het hierdie maatskappye 334 silokomplekse wat betonsilos, silosakke en bunkers insluit.

Die inname en opberging van grane en oliesade is in die hande van ’n graandepotsilo­bestuurder wat toesien dat die produk volgens die Wet op Landbouprodukstandaarde geklas en gradeer word voor dit mag verhandel. Opbergers droog, deurlug en berook die produk vir veilige opberging.

Kwalifikasie ontwikkel

Agbiz Grain het die inisiatief geneem en ’n kwalifikasie vir die opleiding van graansilo­bestuurders ontwikkel.

Die beroepsertifikaat: Graandepotbestuurder, is in 2023 deur die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) geakkrediteer.

Die Peritum Agri Institute is die eerste en tans enigste opleidingsmaatskappy wat akkreditasie verwerf het om hierdie kwalifikasie aan te bied. Die Peritum-kollege is die grootste private landboukollege in Suid-Afrika.

In 2025 word ’n gewaarborgde internskap aan 70 jong Suid-Afrikaners gebied wat vir hierdie studierigting by die Peritum Agri Institute inskryf.

Ingeskrewe studente woon sewe akademiese studieweke aan die Peritum-kampus by, gevolg deur aanlynbestudering van die akademiese materiaal, asook Teams-aanlynsessies met hul lektore.

In die eerste jaar handel studente die teoretiese inhoud van die kwalifikasie af en kry geleentheid om die landboumaatskappy waar hulle geplaas kan word, vir internskappe te besoek.

In die tweede jaar, in 2026, word studente vir tien maande by ’n graansilo vir werkplek-gegronde leeropleiding geplaas. Hierdie plasing stel die studente in staat om die praktiese komponente van die kwalifikasie en die take wat daarmee gepaard gaan, te voltooi.

In 2027 verander die plasing na ’n betaalde internskap by dieselfde landbou-onderneming.

Dit bied aan studente die geleentheid om genoegsame werksondervinding op te doen alvorens hulle die eindeksamen aan die einde van 2028 aflê.

Hierdie program versnel die ontwikkelingsproses van graansilobestuurders, en bied ’n bekostigbare geleentheid aan jong Suid-Afrikaners om ’n toepaslike kwalifikasie en werkplasing in die landbousektor te bekom.

Internskapplasings is in die Vrystaat, Noordwes, Wes-Kaap, Gauteng en Mpumalanga beskikbaar.

Peritum, ’n instituut vir vaardigheidsontwikkeling, is daartoe verbind om individue op te lei wat landbou in Suid-Afrika bevorder. Peritum fokus op ’n lewenslange leer- en ontwikkelingsreis vir individue en hul organisasies.

  • Kontak Odette Shepperson, bemarkingsbestuurder, by marketing@peritumagri.com of by 086-122-8467.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article