“I don’t want any more of this try, try again stuff. I just want out. I’ve had it. I am so tired. I am twenty and I am already exhausted.” – Elizabeth Wurtzel, Prozac Nation

Die Desember-vakansie wink. Dit voel nog oneindig ver.

Die pad na die twaalfde maand en sy stukkie vakansie kronkel deur dale so donker soos die diepste oseaan en berge so hoog soos Everest, verby die ysige suidpool en die onbekende noordpool, na die songloed van die weste, na die briesie in die ooste, oor die skurwe aardkors, deur die blou oseane.

Die energie is op die droesem, die put van geesdrif leeg, die lewenslus skraps, die vreugde ontwykend, die asem min met bloed wat al stadiger deur die are bruis.

Bruis is eintlik ’n verkeerde woord, dalk eerder kruip, of huiwer. Ja, alles huiwer dié tyd van die jaar.

Ons raak so lui soos sommige staatsamptenare wat ek verneem sommer al teen middagete huis toe gaan.

Selfs my asem om te sug is nie meer so sterk soos dit vroeër in die jaar was nie, asof my longe nie meer wil of kan nie.

My hart het teen November sy wil verloor om opgewonde te klop. Hoewel ek seker is hy sal iewers in Desember weer aan’t kloppe gaan by die gedagte dat die kamera, pen en notaboeke stof gaan vergaar. Die skootrekenaar sal so plat soos ’n pannekoek bly, die selfoon gaan vergeet om te lui of te piep.

Die vakansie is dit net ek, ’n boek, en die hangmat by die swembad.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article