Een van die clichés van ons tyd is hoe mense daagliks sê dat hulle ’n verskil wil maak.
Mense gee wat hulle kan, waar hulle kan, want hulle wil ’n verskil maak.
Dit is eintlik mooi.
Eintlik kan dit nie anders nie.
Wanneer jy al die nood om jou sien en mense wat swaarkry en mense wat gehelp moet word, dan dring dit tot jou hart deur om ’n verskil te wil maak.
Natuurlik.
Hoe ons ’n verskil maak en kan maak en wil maak, verskil wel baie.
Wanneer maak jy ’n verskil?
Dit is maklik om te sê: Ek wil ’n verskil maak.
Maar wat beteken dit vir jou?
Wat is daarin vir jou?
Of is die vraag: Wat kan jy aanbied?
Ek onthou ’n klein dogtertjie wat by ’n tehuis vir bejaardes gaan blomme uitdeel het.
Sy wou ’n verskil maak.
Tog het nie bure, nie familie, nie die kerk of die skool ingetree toe sy aangerand is nie.
Ek onthou ’n bejaarde dame wat dag vir dag almal ’n stukkie van haar tyd gegee het.
Tog, toe sy begrawe is, was ons skaars tien mense wat tyd gemaak het daarvoor.
Ek onthou ’n boer wat vrag vir vrag groente afgelaai het vir minderbevoorregtes.
Tog, hy is deur minderbevoorregtes vermoor.
Dan oordink ’n mens hierdie dinge.
En ek besef: Daardie dogtertjie, daardie bejaarde, daardie boer – hulle het wel ’n verskil gemaak.
Toe hulle kon.
Soos hulle kon.
Om ’n verskil te maak is saaiwerk, nie oestyd nie.
Oestyd lê voor.


