Hierdie jaar is tegelykertyd te lank en te kort.
Mense is fisiek en emosioneel moeg. Geïrriteerd. Gefrustreerd. Kort van draad. Hap-hap na mekaar.
Kom jy ’n oomblik tot stilstand en kyk terug op die 11 maande wat ten einde geloop het, kan jy verstaan waarom mense só voel.
Dit was weer ’n jaar vol hoogte- en laagtepunte.
Goeie nuus. Slegte nuus. Uitdagings.
Hoewel die rentekoerse beter begin lyk, het die ekonomie steeds ’n klam, sweterige greep om die gemiddelde mens se nek.
Hierdie jaar is te lank.
Kyk jy egter na die hoeveelheid werk wat moet klaar wees voordat kantoordeure vir die feestyd sluit, is die jaar eintlik te kort. Daar is nog hope wat weggewerk moet word.
Energie is min en soms voel dit of daar ’n kortsluiting tussen jou vingers en breinselle is.
Hierdie boodskappe kom stadiger en meer onreëlmatig deur as vroeër in die jaar.
Dit voel of hier en daar watteballetjies in plaas van breinselle is.
Die werk wat weggewerk moet word, sal ’n sekere aantal dae en ure neem om afgehandel te word. Wanneer ’n mens vinnig probeer bereken, vind jy daar is nie hierdie aantal dae en ure oor nie.
Hierdie jaar is te kort.
Gewoonlik voel die meeste mense teen Desember dat ’n jaar te lank raak.
Hierdie jaar voel vir my anders.
Hierdie jaar is tegelykertyd te lank en te kort.




