Die Kalaharie Stoftrappers van Olifantshoek, die enigste rieldansgroep in die John Taolo Gaetsewe-distrik, het op 26 Oktober aan ’n rieldansfees in die Paarl deelgeneem waar hulle algeheel tweede geëindig het, en boonop twee bekers vir eerste plekke verower het: vir beste rieldanser, en beste uitbeelding van ’n tema. Soul Jacobs, wat as die beste rieldanser aangewys is, het ondanks ’n pynlike ribbesering steeds deelgeneem. Jacobus Jacobs van die rieldansgroep vertel dat sy dansers die tradisionele hokmeisiedans uitgevoer het. Dit wys die gebruik van wanneer ’n meisie ’n jong vrou raak, en sy 14 dae lank in afsondering gehou word. Ná 14 dae word sy deur vroedvrouens uitgebring, waarna gedans en feesgevier word. Jacobs sê dat hy graag meer jong mense in die distrik by die rieldanse wil betrek. Hy bedank Kumba Iron Ore en die Cape Development and Dialogue Centre (CDDC) Trust vir hul ondersteuning. Die Kalaharie Stoftrappers wou van 12 tot 16 Desember aan die internasionale Nama-fees in Carnarvon deelneem, maar ’n gebrek aan befondsing kniehalter hulle.

Foto: JTG Traditional Khoi and San Community House

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article