“Sometimes God’s angel can be a big, burly man with tattooed arms.” – Mary Potter Kenyon, Jack Canfield, Chicken Soup for the Soul: Angels Among Us: 101 Inspirational Stories of Miracles, Faith, and Answered Prayers

Sommige van ons het al engele teëgekom, al het ons dit nie toe geweet nie.

Die wesens wat die laksman afweer, die kere toe jy byna dood was. Jy onthou mos?

Toe jy as kind voor die kar ingeloop het om jou broer te red. Toe jy vlieëgif gedrink het.

Toe jy jou ma se geboorte­beperkingpille as lekkertjies aangesien het, amper weens dehidrasie omgekom het weens ’n dokter se fout, uit die bewegende kar geval het, deur ’n sleurstroom die see ingetrek is.

Ook, die vragmotorbestuurder wat kopgehou het toe hy vir ’n padvark moes uitswaai om ons motor nie met sy sleepwa van die pad te vee nie.

Daardie donker nag diep in Botswana toe julle ewe braaf in die nag buite die tent gaan piepie het, en die leeu net anderkant die boom brul.

Dan is daar die engele in die lywe van mense. Hulle wat dit regkry om hul vlerke onder hul ribbes in te vou, maar wie se meelewing dit verklap.

Die man by die aftreeoord wat bejaarde vroue haarkapper toe neem, of hul tuine natgooi en hulle kerk toe neem.

Die vriendin wat vir jou ’n luukse masseersessie koop.

’n Broer of vriendinne wat vir jou geskenke van oor die see bring. Hulle wat luister, omsien, omhels, aanvoel.

Hulle is verhewe bo mense.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article