Die nuutste misdaadstatistiek dui ’n daling in die meeste misdade in die Noord-Kaap aan.

Volgens dié statistiek vir die tweede kwartaal van die boekjaar, Julie tot September, en wat op 6 Desember bekend gemaak is, was daar ’n afname van 9,5% by 14 van die 17 ernstige misdaadsoorte wat aangemeld is.

Lt. genl. Koliswa Otola, polisiekommissaris, sê dat meer gesamentlike pogings in gemeenskappe nodig is om misdaad hok te slaan. Bentley Vass, LUR vir Coghsta, en vervoer, veiligheid en skakeling, sê dat misdaadbekamping nie net ’n polisiefunksie is nie, maar ’n saak vir die hele gemeenskap wat onder meer die oë en ore van die polisie moet wees en misdade aanmeld.

Otola het haar kommer oor voorvalle van misdaad op skoolterreine uitgespreek waarby leerlinge betrokke was, en ook oor die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur.

Onlangs het pres. Cyril Ramaphosa munisipaliteite aangespreek om vuil dorpe en stede skoon te maak en vullisbestuur toe te pas, spesifiek om knaagdierplae hok te slaan.

Dit herinner aan die “broken windows”-teorie, waarin beweer word dat een stukkende venster in ’n buurt spoedig tot ’n volgende stukkende venster lei.

Volgens ’n opsomming hiervan op psychologytoday.com is ’n stukkende venster ’n metafoor vir enige teken van wanorde en verwaarlosing in ’n samelewing wat nie aangespreek word nie. Dit sluit die toename van kleiner misdade in, soos vandalisme, openbare dronkenskap en enige optrede wat toenemend tot meer wetteloosheid lei.

Dié teorie sluit aan by ’n studie van ScienceDirect dat vir elke 1% wat ’n groen ruimte in ’n buurt toeneem, dit gewelds­misdaad met 1,2% verminder.

Dalk is die beste Kersgeskenk, én hoop vir die nuwe jaar wat jy aan jouself kan gee, om op te ruim en iets te plant. Net dalk word bogenoemde teorieë as die waarheid bewys, en help jy só om misdaad te verminder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article