Sportafrigters in Loeriesfontein word opgelei.

Foto: Verskaf

Om in die groeiende vraag na sportafrigting van gehalte in Loeriesfontein te voorsien, is ’n omvattende opleidingsprogram onlangs in dié dorp bekendgestel wat plaaslike rugby-, sokker- en netbalspanne betrek.

Dit dra tot die ont­wikkeling van sport in die Namakwa-distrik by, met planne om formele ligas te stig wat reeds in die vooruitsig is.

“In 2023 het die sportge­meenskap die behoefte aan verbeterde afrigtings­ondersteuning uitgespreek, wat ’n belangrike rol in sportopvoeding en sosiale ontwikkeling speel,” sê Vanessa Fredericks, ekonomiese ontwikkelings­bestuurder vir die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanleg, wat die programfinansierders is.

“Sport kweek lewens­waardes soos respek, spanwerk, deursettings­vermoë en persoonlike toewyding.

“Ons is trots om hierdie program te ondersteun, wat plaaslike afrigters toerus met die gereedskap om die volgende geslag atlete te bemoedig en te ontwikkel.”

Afrigters van rugby-, sokker- en netbalspanne is by die afrigting betrek.

Die program, deur Top in Sport in werking gestel, sluit modules soos afrigter- en atleetontwikkeling, sport­siel­kunde, beseringsvoorkoming en -bestuur, doeltreffende kommunikasie en sportklub­ontwikkeling in.

Deelnemende afrigters ontvang ook noodhulp­opleiding.

Afrigters sal noodsaaklike sportmateriaal vir hul spanne, asook handelsmerkklere ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article