Herinneringe van wat ’n mens vanjaar gesien, gelees en beleef het, is ’n natgereënde wolkombers wat agterna sleep; met die punte wat oor jou oë hang, belemmer dit die sig vir die pad vorentoe.
Weerloses in staatshospitale, ook die provinsiale Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley, waar hulle te veel aan die ellendige genade van traak-my-nie-agtige versorgers oorgelaat is; waar die stiptelike nakoming van tee- en etenstye voorrang kry bo die noukeurige versorging van pasiënte.
Pasiënte wat in die bloedige somer in sale met nie-werkende lugreëling lê en vlieë probeer verjaag of die son deur die venster probeer afkeer; wat hoor dat hulle dalk nog tot vyf weke vir ’n operasie kan wag; wat trappe op en af gedra word omdat die hysbak nie werk nie.
Die verstommende kontras op die parkeerterrein, waar van die personeel, met ’n waarskynlike salarisskaal in die lae- tot middelklasinkomstegroep, in uiters luukse en splinternuwe voertuie klim. Hoe ver en wyd strek korrupsie, wonder ’n mens.
Die eindelose mors van water in dorpe en die hoofstad, waar waterlekke net nie suksesvol herstel word nie. Die stank van riool uit borrelende mangate waarlangs inwoners vir maande, soms jare, moet bly.
Meer haweloses wat met vuil komberse oor die skouers drentel. Slaggate. Padtekens afwesig. Groeiende hope rommel.
Die waarneem van die stigting van nóg ’n komitee, nóg een wat eindeloos vergader sonder om iets te verander of iets te doen.
Gelukkig is daar ook ander herinneringe: Sopkombuise en ander organisasies wat nougeset en onbaatsugtig help. Personeel in hospitale en besighede wat werklik ’n passie vir hul werk het. Individue met omgeeharte. Mense wat nie bang vir werk is nie; wat altyd ’n plan het.
Te danke aan hulle word die swaar wolkombers ligter, kry ’n mens krag om dit af te gooi en nuwe hoop vir 2025 te kry.




