Veterane van nasionale diensplig wat in Kimberley en omgewing woon, word na ’n saamkuieroggend in Januarie genooi.
Op dié geselligheid wat deur die Veterane-bystandfonds (VBF) aangebied word, word in ’n atmosfeer van kameraderie saamgekuier, ’n ete geniet en pryse en geskenkpakkies uitgedeel, asook ’n inkopiegeskenkbewys.
’n Spreker tree op en musiek word gemaak.
Die VBF, ’n onafhanklike niewinsgewende maatskappy, reik oor die land heen aan diegene uit wat in ’n vorige bestel verplig was om nasionale diensplig te doen. Die fonds is van skenkers afhanklik wat hetsy eenmalig of maandeliks skenkings doen om dié ouddienspligtiges by te staan.
Alle nasionalediensplig-veterane word by die saamkuieroggend verwelkom, veral dié wat met geldelike uitdagings te kampe het en van ’n Sassa-pensioen afhanklik is.
Volgens die VBF leef ’n groot aantal van die ouddienspligtiges afgesonder, en voel hulle van die gemeenskap afgesny.
Tydens so ’n saamkuiergeleentheid maak dié veterane weer kontak met mense wat ’n soortgelyke agtergrond as hulle deel en besef hulle opnuut dat hulle nie alleen is nie.
Te danke aan sulke saamkuiergeleenthede kan verteenwoordigers van die VBF individueel met elke ouddienspligtige kommunikeer om sodoende toekomstige hulp met betrekking tot unieke probleme en behoeftes te bespreek.
Om vir ’n R500-Checkers-geskenkbewys te kwalifiseer, kan ouddienspligtiges hul ID- en Sassakaart saambring.
- Die geleentheid vind op Woensdag 8 Januarie om 10:00 by die NG kerk Dutoitspan by Rosestraat 4 in Beaconsfield, Kimberley, plaas.
- Belangstellendes kan hul naam, ID-nommer en die woord “Kimberley” in ’n WhatsApp-boodskap na 066-518-0402 stuur om hul plek te bespreek.





