Dringende optrede is nodig om die Gamagara-munisipaliteit se besteding van finansiering vir munisipale infrastruktuur te verbeter.
Henriëtte du Plessis, DA-raadslid, sê in ’n verklaring dat die party die munisipaliteit sal versoek om dringend ’n taakspan te stig om ’n implementeringsplan vir munisipale-infrastruktuurtoelae (MIG) te ontwikkel.
Dit volg op die onthulling in halfjaarlikse finansiële dokumente dat slegs 6% van toelaefinansiering tot dusver bestee is. Onlangs het die ouditeurgeneraal ook onthul dat Gamagara se MIG-geld in die vorige boekjaar met 67,93% onderbestee is.
“Die oorblywende geld moes teruggestuur word na die tesourie. Inwoners is dus beroof van R6,383 miljoen se beleggings in opknapping van kritieke infrastruktuur en is gevolglik van toegang tot basiese dienste ontneem,” sê Du Plessis.
Die Olifantshoek-gemeenskap moes onder meer van September tot Januarie verlammende waterbeperkings verduur. Die MIG-finansiering van R23 miljoen wat vir die 2024-’25-boekjaar toegeken is, het die potensiaal om volhoubare watervoorsiening drasties te verbeter en voortdurende rioolstortings aan te spreek.
“Die munisipaliteit se versuim om weereens hierdie geld te benut grens aan menseregteskending,” meen Du Plessis.




